Oudtshoorn speel die naweek, 12 en 13 April 2024, gasheer vir meer as 80 perde, wat hier kom deelneem aan die Al Wefa Stable FEI perde-uithouritte.
Die rit word jaarliks by die Kansa Krale, buite Oudtshoorn aangebied en is baie gewild onder perde-uithouritentoesiaste, omdat dit nie net een van die lekkerste bane is nie, maar ook ’n redelike plat oppervlak het.
Wat vanjaar se rit egter ekstra spesiaal maak, is die feit dat dit nie net ’n gewone rit is nie, maar ook ’n FEI rit. FEI staan vir die Internasionale Federasie vir Perdesporte.
Die rede waarom hierdie rit ook ’n FEI-afdeling aanbied is sodat perde en ruiters hul FEI sterre kan verdien, en so nie net proteakleure verwerf nie, maar ook internasionaal kan gaan ry en deelneem aan uithouritte in ander lande.
Beamptes en veeartse moes ook spesiaal vir die rit ingevlieg word, sodat dit wel as ’n FEI-rit geklassifiseer kon word.
Die rit vind vanjaar vir die 26ste keer plaas. Die eerste Oudtshoorn perde-uithourit is op 28 Maart 1997 op die plaas Rooirivier sowat 20 km vanaf De Rust gehou.
Dit is deur Piet Wannenburg snr en die Wes-Kaap Uithourit-klub (WCERA) gereël. Die rit het tot in 2012 daar plaasgevind, waarna wyle Nico du Bois die aanbieding van die uithourit oorgeneem het.
Die rit is daarna herdoop na die De Zeekoe Meerkat Uithourit en is vir die volgende drie jaar by die Kansa Krale aangebied.
Dit het van 2016 tot 2018 na die Berluda Gasteplaas in Schoemanshoek geskuif, voordat dit in 2019 teruggeskuif is na die Kansa Krale.
Soos met baie ander sportgeleenthede kon die rit nie tydens 2020 plaasvind met die Covid-19 pandemie nie, maar is toe weer in 2021 en 2022 aangebied.
Die Kansa Krale het die perseel verlede jaar opgegradeer en die rit is na Louvain Gasteplaas net buite Oudtshoorn geskuif.
Vanjaar gaan ruiters die nuwe toevoegings en opgraderings by die Kansa Krale terdeë geniet.
Ruiters neem Vrydag en Saterdag onderskeidelik deel aan 40 km, 80 km, 100 km en 120 km afstande.
Die reën het egter die planne vir die normale baan in die wiele gery, maar daar is spoedig Woensdag ’n nuwe baan uitgemeet en gemerk.
“Ons bedank ook al ons borge vir hul ondersteuning, sonder wie die rit beslis nie moontlik sou kon gewees het nie. Elke bydra word ongelooflik baie waardeer,” het Henk Basson, voorsitter van die Outeniqua Uithouritklub, wat ook die rit aanbied aan Die Hoorn gesê.
Die publiek is welkom om die rit te kom besoek en na die besonderse Arabier en Arabier-kruisperde te kom kyk.
Daar sal ook heerlike versnaperinge te koop wees. Bring gerus ’n kontantgeldjie saam. (Deur Angelique Erasmus)