Man moet opdok oor Facebooklaster

’N MAN wat lasterlike opmerkings op Facebook gemaak het in sy kommentaar oor ’n prokureur van Oudtshoorn, is nou deur twee howe gelas om skadevergoeding van R20 000 met rente asook die regskoste aan die prokureur te betaal.

Die Kaapse Hoë Hof het onlangs ’n appèl van Ashley Rensburg van die hand gewys nadat bevind is sy kommentaar oor Johan Wagener, die proku­reur, se hantering van ’n skadevergoedingseis was “kwaadwillig”. Twee regters het in die Hoë Hof beslis dat Rensburg wel die skade­ver­goeding van R20 000 wat vroeër deur die Oudts­hoorn Landdroshof aan Wagener toegestaan is, moet betaal.

Rensburg het volgens hofstukke op Facebook kommentaar gelewer op ’n berig van Die Hoorn wat op 29 Januarie 2016 aanlyn gepubliseer is.

Die berig, Burgemeestersketting na meer as twee ure gevind!, het verwys na die balju se beslag­legging op raadseiendom nadat die Oudts­hoorn Munisipaliteit in gebreke gebly het om ’n skadevergoedingseis van R128 953,30 (met rente en koste) van ’n kliënt van Wagener, Linette Olivier, te betaal. Die burgemeestersketting, een van die items op die balju se lysie, is eers na ’n lang soektog gevind toe Wagener ’n kluis by die munisipaliteit laat oopboor het om die ketting uit te haal. Werknemers by die munisipaliteit het beweer hulle weet nie waar die ketting is nie.

Rensburg se kommentaar, wat intussen verwyder is, het gelui: “Ek hoop daardie parmantige prokureurkie word sommer goed voor stok getrek voor die Balie-raad. Watter magte het hy om sommer in te breek en munisipale bates te vernietig? Cass, maak biqi voorbeeld van daai verwaande aandagsoeker wat die regsbank so deur die modder sleep. Dis krimineel om nog hier te kom spog oor hoe hy EN sy kliënt die dorpsetels wil verkwansel wat vyf keer die waarde van hul eis oorskry. Sies!”

Wagener het in sy aanvanklike skadevergoe­dingseis in die Oudtshoorn Landdroshof aan­ge­voer die kommentaar het sy status, goeie naam en reputasie geskaad

Die regters het in die uitspraak in die Hoë Hof bevind dat Rensburg se kommentaar nie redelik was nie en die berig geen basis gebied het vir die kommentaar dat Wagener se optrede onwettig was of dat hy die regsprofessie in oneer gebring het of dat hy van plan was om munisipale eiendom te vermors nie.

“Dit kan nooit redelik wees om kommentaar te lewer of om oneerlike of onbehoorlike motiewe aan iemand toe te dig en so ’n persoon te kritiseer sonder goeie rede daarvoor nie,” lui die uitspraak.

Dié uitspraak van die Hoë Hof laat die kollig val op die dikwels lasterlike en skadelike kommentaar wat mense daagliks op sosiale media lewer. Die Hoorn is bewus van nog ’n moontlike regsgeding op Oudts­hoorn oor lasterlike kommentaar op sosiale media. (berig: Liesel le Roux)