Man, geld en vriendin vermis

Frits Jacobs.


Deur Angelique Erasmus
’N WERKNEMER van Badenhorst Slaghuis op Oudtshoorn word sedert Woensdagoggend vermis.

Frits Jacobs het omstreeks 10:20 van sy werk vertrek om ’n groot bedrag kontant van sy werkgewer te gaan bank, maar hy het nooit by die bank opgedaag nie.

Hoewel die bedrag kontant aan Die Hoorn bekend is, weerhou ons dit op versoek.

’n Wit Hyundai-bakkie met die registrasienommer CG 14811 word ook vermis.

Volgens Bennie Byleveld, een van die eienaars van die slaghuis, kon hulle glad nie daarin slaag om kontak te maak met Jacobs nie.

Marius Westraad, eienaar van die Oudtshoorn Country Club, het aan Die Hoorn gesê dat Jacobs se vriendin, Tammy Weyers, nie Woensdag om 15:00 by die werk opgedaag het nie, en dat sy deur haar ma en die polisie gesoek word.

Albei Jacobs en Weyers se selfone is volgens Die Hoorn se inligting afgeskakel.

Sers Gretchen Michaels, woord­voer­der van die Oudtshoorn Polisie, het gesê die polisie ondersoek ’n saak van diefstal asook die gebruik van ’n voertuig sonder die eienaar se toe­stemming.

Enige persoon met inligting word versoek om die Oudtshoorn Polisie te kontak by tel 044 203 9014.