Man met 16 veroordelings weer skuldig aan huisbraak

’N 39-JARIGE man van Thabo Mbeki Square op Oudtshoorn met 16 vorige veroordelings vir hoofsaaklik huisbraak, is in die Oudtshoorn Streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy weer aan huisbraak skuldig bevind is.

Lorenzo Matroos is deur die hof gewaarsku dat hy tot gewoontemisdadiger, die sogenaamde “bloubaadjie”, verklaar kan word indien hy weer aan dieselfde soort misdaad skuldig bevind word.

Matroos, wat sedert 2006 gereeld misdaad pleeg, het skuldig gepleit.

Hy erken in sy pleitverduideliking dat hy op 8 Januarie 2020 by die wo­-ning van Alize Swanepoel ingebreek en goedere ter waarde van R5 402 gesteel het.

Hy het glo die betrokke dag gaan werk soek en ’n venster van die huis gebreek terwyl niemand tuis was nie.

Hy het die goedere in ’n krat gepak en toe hy daarmee uit die huis kom, het iemand hom gesien en die polisie ontbied.
Matroos het sonder die krat weggehardloop, maar is kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het Matroos se pleitverduideliking aanvaar en hy is deur streeklanddros Daniel Boks skuldig bevind en gevonnis. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Man met 16 veroordelings weer skuldig aan huisbraak"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*