DIE vonnisoplegging van Magdaleen (Maggie) Titus en Justice Mooi is Maandag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn tot 2 Maart uitgestel.
Titus en Mooi is albei op 29 November 2019 deur regter Nolwazi Boqwana skuldig bevind aan die huurmoord op Titus se man, Preston.
Sy lyk is met steekwonde op 2 Desember 2017 in sy huis op die perseel van die Oudtshoorn Iinfanterieskool gevind. Daar was geen gedwonge toegang tot die huis nie. Preston was ten tye van sy dood ’n stafsersant in die weermag.
Titus en Mooi se mede-beskuldigdes, Masithembe January en Natashia Stuurman, is destyds onskuldig bevind.
Boqwana het Maandagoggend in die hof verduidelik dat sekere verslae steeds uitstaande is, weens ’n “stelselfout”.
“Die aansoek vir die vonnisverslae is weens dié fout eers drie weke gelede deur die betrokke departement ontvang, en dus was daar nie genoeg tyd om dit betyds klaar te hê vir vandag (Maandag) nie,” het die landdros gesê.
Sy het aan hofgangers gesê dat sy hul frustrasie met die oponthoud verstaan.
Titus was netjies geklee met haar hofverskyning en het haar familie opgewek gegroet.
Haar hare was netjies gedoen en haar naels mooi geverf.
Titus en Mooi bly in aanhouding totdat hulle gevonnis word. (Deur Angelique Erasmus)