’N MA van drie kinders van Calitzdorp wat aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof saam met twee medebeskuldigdes vonnisse van agt jaar gevangenisstraf oopgelê.
Simoné Karelse (29) is saam met Geano Hess (27) en Roland Meiring (34) daaraan skuldig bevind dat hulle die aand van 6 Oktober 2018 die 16-jarige Niklaas Anta, met wie Karelse in ’n verhouding was, met ’n mes gedreig en van sy ma se selfoon ter waarde van R800 beroof het. Karelse was ten tyde van die voorval op parool
’n Vierde verdagte, Sabramay Valloo, is net aan gewone aanranding skuldig bevind deurdat hy Anta, ’n famililielid, geklap het omdat hy so laat in die aand rondgeloop het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om die getuienis van Karelse, Hess en Meiring te verwerp as vals en hulle skuldig te bevind omdat hulle met ’n gemeenskaplike doelwit opgetree het.
Hoewel dit Hess was wat ’n mes teen Anta se nek gehou het, het die drie die klaer saam genader met die doel om ’n misdaad te pleeg.
Die drie se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe vonnisse van 25 jaar vir Karelse en 15 jaar vir Hess en Meiring omdat dit skokkend onvanpas sal wees. Volgens hom het die klaer geen beserings opgedoen nie en is sy selfoon, alhoewel sonder die simkaart, teruggekry.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging na Karelse verwys en gesê mense moenie dink daar is versorgers vir hul kinders en dan doen wat hulle wil en nie swaar gestraf word nie.
Meiring het ook ’n lang lys vorige veroordelings en is al voorheen onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Hess het slegs een vorige veroordeling maar was die een wat die mes teen die klaer se keel gedruk het.
Die hof het bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe vonnisse en Karelse, Hess en Meiring is elk tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Hulle is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit. Valloo is slegs berispe. (Deur Garnett Wicomb)