Agri Wes-Kaap bekommerd oor impak van die regeringsbesluit oor alkoholverkope

AGRI Wes-Kaap betwyfel of die regering besef watter enorme skade die besluit van Sondagaand 12 Julie 2020 om drank­verkope met onmiddellike effek op te hef, op die totale wynwaardeketting gaan hê.

Vlakke vyf en vier van die nasionale inperking het reeds ’n groot nadelige uitwer­king op die wynbedryf gehad toe die verbod op binnelandse verkope ’n inkomste-verlies van meer as R3 miljard tot gevolg gehad het, sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Hy sê Agri Wes-Kaap is uiters bekommerd oor werksverliese wat reeds vorgekom het as gevolg van Covid-19 regulasies in die waardeketting.
Na raming kan nog 18 000 werkers ge­raak word.

Die besluit in Julie vanjaar om drankverkope wéér te verbied gaan ook verdere druk plaas op talle produsente en wynkelders wat reeds enorme skade vanweë Covid-19-regulasies gely en reeds ’n groot behoefte aan oorbruggingsfinansie­ring het.

“Die landboubedryf is nie in die besluit geken of gekonsulteer nie en die impak stop nie by die plaashek of by die kleinhandelaar nie.

“Daar bestaan ook praktiese implikasies, soos wat van 2021 se oes gaan word as die 2020-oes nog in die kelders gaan wees. Die totale spiritualeë-bedryf, waarvan die oorsprong in die landbou lê, word nadelig deur die opheffing van drankverkope beinvloed,” het Strydom gesê.