DIE verhoor van ’n vrou van Volmoed wat tereg staan op ’n klagte van moord op haar man, is in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel omdat die dokter wat die nadoodse ondersoek gedoen het, eers later beskikbaar sal wees.
Susan Plaatjies (45) word daarvan aangekla dat sy die pa van hul drie kinders, die 45-jarige Kiewiet Plaatjies, die aand van 2 Mei 2018 met ’n mes in die nek gesteek en hy op die toneel dood is.
Een van haar kinders het vroeër getuig dat hy gesien het hoedat sy ma die mes uit ’n rakkie haal en sy pa daarmee steek, maar onder kruisverhoor ontken dat hy dit gesien het.
Volgens hom het hy sy ma ook hoor sê dat sy sy pa gaan doodsteek.
Plaatjies pleit onskuldig en voer aan dat sy uit selfverdediging opgetree het.
Sy was ook sterk onder die invloed van alkohol nadat sy en haar man die betrokke dag baie gedrink het.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en Plaatjies is op waarskuwing uit. (Deur Garnett Wicomb)