Lugkwaliteitsbeheer in Oudtshoorn

Foto: Die Hoorn argief

OUDTSHOORN, 29 Augustus 2023 – Die Oudts-hoorn Munisipaliteit, in samewerking met die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, het onlangs ’n belangrike operasie onderneem om lugkwaliteitsbeheer in die streek te verbeter.

Die fokus van die operasie was om in verbinding te tree met alle skrootmetaal-fasiliteite in die gebied en bewustheid te skep oor die implikasies van metaal herwinning uit enige vorm van skrootmateriaal deur verhitting (oop vuur). Oop vure by skrootmetaal-fasiliteite is al lank ‘n bekommernis weens die potensiële impak op lugkwaliteit en die omgewing.

Verteenwoordigers van die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Tuinroete Distriksmunisipaliteit het hierdie fasiliteite besoek en ’n konstruktiewe dia-loog gevoer oor die belangrikheid om weg te bly van oop vuur, die verbranding van plastiek/rubber en die metode wat gebruik word om metaal uit enige vorm van skrootmateriaal te herwin.

Die instansies het die besoeke verwelkom en hul bereidwilligheid uitgespreek om aan regulasies te voldoen. Die reaksie wat ontvang is van die skrootmetaal-instansies beklemtoon ’n gesamentlike begrip van die noodsaaklikheid om lug- kwaliteit en volhoubaarheid as prioriteite te beskou.

Met ’n ware toewyding om saam te werk met die munisipaliteite, het die instansies belowe om ten volle hul samewerking te gee om te verseker dat oop vure tot iets van die verlede behoort.

Die sukses van hierdie projek toon hoe samewerking goeie dinge kan bewerkstellig. Terwyl ons voortgaan, is beide die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Tuinroete Distriksmunisipaliteit steeds toegewyd om ’n plek te skep waar besighede en plaaslike owerhede goed saamwerk om die toekoms skoner en groener te maak.

Hierdie aksie stel ’n goeie voorbeeld van die neem van tydige stappe vir die bewaring van die omgewing. (Deur Lindi Brill)