Le Roux presteer by SA sterkmankompetisie

Danovan le Roux het verlede naweek, 26 en 27 Augustus, aan die Suid-Afrikaanse Sterkmankompetisie in Rustenburg, Noord-Wes, deelgeneem. Hy het die eerste plek in die o.90 kg kategorie behaal en daarmee kwalifiseer hy om aan die Afrika Sterkmankompetisie in Zambië te gaan deelneem in Oktober. Foto: Verskaf

Danovan le Roux het die afgelope naweek aan die Suid-Afrikaanse Sterkmankompetisie deelgeneem wat in Rustenburg, Noord-Wes, plaasgevind het.

Le Roux het ’n eerste plek in die o.90 kg beginnerskategorie gewen. Die kompetisie het bestaan uit 6 items wat oor twee dae plaasgevind het.

Saterdag, 26 Augustus, was die items wat hy moes doen die volgende: “Viking press” 90 kg, “Deadlift” 240 kg, “Medley” (4 voorwerpe dra vir 15 m) 80 – 100 kg. Aan die einde van die eerste dag het hy in die derde posisie gelê.

Sondag, 27 Augustus, het die items voortgegaan met die “Circle walk” 160 kg, “Fatback farmers” (dra 110 kg aan elke kant) vir 20 m en die “Truck pull” waarvan die gewig onbekend is.

Met die eerste plek in sy kategorie het Le Roux gekwalifiseer om aan die Afrika Sterkmankompetisie, wat in Oktober in Zambië plaasvind, deel te neem.

“Ek wil graag dankie sê aan Graham Prince Maritz van Ystergym vir sy ondersteuning en afrigting, en die feit dat hy my met sy toerusting vertrou. Ek is vreeslik trots op wat ek vermag het, aangesien ek ’n lae-rug besering op die eerste dag van die kompetisie opgedoen het, maar ek het nooit opgegee nie en met elke item het ek bewys dat ek net beter en beter kan doen”, het Le Roux gesê. (Deur Lindi Brill)