Lewenslank vir verkragting van gestremde 8-jarige

Deur Garnett Wicomb
DIE verkragting van ’n kind is “afskuwelik en meer gruwelik as enige ander verkragting”.

So het streeklanddros Daniel Boks verlede Donderdag in die Oudts­hoorn Landdroshof gesê met die vonnisoplegging van ’n man wat sy agtjarige gestremde stiefdogter her­- haaldelik verkrag het.

Bevon Salmon (28) van Beaufort-Wes is daaraan skuldig bevind dat hy die kind in 2014 verskeie kere ver­krag het wanneer haar ma geslaap het.

Sy was tien jaar oud toe sy in die hof oor die voorvalle getuig het en kry volgens ’n maatskaplike verslag steeds nagmerries daaroor. Sy slaap sleg, is soms aggressief en het al vier keer graad 4 gedruip.

Salmon het die kind ook – nadat hy op ’n keer borgtog toegestaan is – by die skool gaan intimideer en haar ma aangerand. Die ma is in Desember 2014 oorlede.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof vir lewenslange tronkstraf gevra omdat Salmon sy vertrouensposisie misbruik en ook geen berou toon nie.

“Hy het geen genade vir die slagoffer gehad nie en het ’n kind se lewe vernietig. Niks sal haar letsels herstel nie. Hy verdien lewenslange tronk­straf,” het Weyers gesê.

Salmon se regsverteenwoordiger, Winston Jansen, het die hof gevra om in ag te neem dat hy reeds vir langer as twee jaar in aanhouding is, nog redelik jonk en ’n eerste oortreder is. Hy het self minderjarige kinders en kan wel nog gerehabiliteer word.

Streeklandros Daniel Boks het Sal­mon se dade as skandalig en walglik beskryf.

“Die howe moet keer dat die gemeenskap nie sake in eie hande neem nie en daarom vonnisse oplê wat ook andere afskrik,” het hy gesê.

“Verkragting van ’n kind is meer gruwelik as enige ander verkragting.”

Salmon is behalwe die lewens­lange vonnis ook tot vier jaar vir inti­mi­dasie en ses jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer gevonnis. Dié vonnisse kan same­lopend met die lewenslange vonnis uitgedien word.

Voorts is Salmon onbevoeg ver­klaar om ’n vuurwapen te besit en moet sy naam in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeneem word.