Opgeskorte vonnisse en huisarres vir kabeldiewe

Diefstal van Telkom-kabels in Schoemanshoek

Deur Garnett Wicomb
TWEE van drie koperkabeldiewe is verlede Donderdag in die Oudts­hoorn Streekhof opgeskorte vonnisse opgelê en onder huisarres geplaas, terwyl die derde later gevonnis sal word.

Andrew Tarentaal (20), Royden So­lomons (20) en Barend Fou­che (32) het erken dat hulle op versoek van ’n man wat nie aangekeer is nie, koperkabels van Telkom ter waarde van R70 000 in Schoemanshoek ge­steel het.

Streeklanddros LA Wilkens het met vonnisoplegging daarop gewys dat die drie mans aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.
“Diefstal van telefoonkabels lei tot baie ongerief vir inwoners wat van landlyne gebruik maak omdat sel­foonopvangs swak is of glad nie bestaan nie. Dit lei ook tot beskadiging van infrastruktuur,” het die landdros gesê.

Tarentaal se vonnisoplegging is vir vyf jaar uitgestel, terwyl opgeskorte vonnisse van onderskeidelik ses en vier jaar aan Solomons en Fouche opgelê is.

Albei is ook tot korrektiewe toesig van twee jaar gevonnis wat huisarres vir 24 uur per dag behels, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, dat hulle nie Oudtshoorn mag verlaat sonder die wete van Korrektiewe Dienste nie en hulle weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms.

Al drie is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.