MJ vrees nou vir sy lewe

Preston Titus-moordsaak

Masimthembe January (23).

Masimthembe January (23).

Deur Garnett Wicomb
Die saak teen Masimthembe January (23) van Port Elizabeth – die vyfde verdagte in die moordsaak van die soldaat, Preston Titus, is Vrydag in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n formele borgaansoek tot Meimaand uitgestel.

January staan ook bekend as MJ.

January, wat nou vir sy lewe vrees en in die George Gevangenis aangehou word, staan saam met die soldaat se vrou, Magdaleen Titus, asook Natashia Stuurman en Justice Mooi tereg op ’n klagte van moord.

Sixabiso Klip, voormalige motor­bestuurder van Magdaleen Titus, het ’n suksesvolle pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is reeds tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Borgtog is aan Magdaleen Titus en Mooi geweier, terwyl Stuurman vry­gelaat is op borg van R15 000.
January is op Woensdag 18 April in Port Elizabeth in hegtenis geneem en het die volgende oggend sonder regsverteenwoordiging vir die eerste keer in die hof verskyn.

Hy het die dag daarna om regshulp aansoek gedoen en word deur Eugene Roos van die plaaslike regs­hulp­raad verteenwoordig.
MJ is na bewering die man wat Magdaleen aan die twee vermeende moordenaars, Justice Mooi en Vusumsi voorgestel het en was glo vir ‘n maand ook in ‘n liefdesverhouding met haar.

Landdros Roelf Konstabel het die saak Vrydag tot 16 Mei 2018 uitge­stel.