Lea en Smiley wen

Lea Olivier soen vir Smiley na hul groot prestasie. By hul staan Gerhard Schultz en Carol Immelman, Smiley se eienaars. Foto verskaf

Lea Olivier (11), ’n inwoner van Oudtshoorn en leerder van Laerskool Wesbank is die jongste wenner van die KUSA (Kennel Union of South Africa) junior hanteerder in Suid-Afrika vir 2024, wat in Durban, die naweek van 1-3 Junie 2024 plaasgevind het. Deelnemers van hierdie kategorie is tussen 11 en 19 jaar.

Lea en die oulike Dalmatiese hond, Dallmalli Olympic Dream, maar bekend as Smiley, besit en geleer deur Carol Immelman en Gerhard Schultz, het die gesogte titel opgeraap.

Immelman en Schultz het oor die afgelope 6 jaar vir Lea onder hul vlerke geneem en bygedra tot haar hondeskou loopbaan. Die eerste hond waarmee sy aan skoue deelgeneem het was Jackson, ’n Pug. Lea skou gereeld by verskeie skoue landwyd met ’n groot verskeidenheid honderasse, waarvan Foxhunt If The Shoe Fits at OBT, spesiaal vir haar uit Australië gestuur is, deur die wêreldbekende teler van hierdie ras, Brigette Bryson.

Hierdie baie buitengewone en spesiale hond se bynaam is Cinderella en sy is ook die enigste van haar soort in die hele land.

OBT a Song Of Fire And Ice bekend as Jon Snow, is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die top Australiese skaaphond in Suid Afrika aangewys. Lea is saam met haar ma Lorish Olivier, mede-eienaar van hierdie stoet. Hierdie is die enigste stoet waar Australiese skaaphonde nie net geteel word om merkwaardig en mooi te wees nie, maar hulle werk ook volstruise op hul plaas, net buite Oudtshoorn.

Die Oudtshoorn Hondeskou vind die naweek van 14-16 Junie by Hoërskool Oudtshoorn plaas. Maak ’n draai en kom kyk vir Lea en haar topgeteelde viervoet vriende en nog vele meer in aksie. (Supreme Champion, Grand Champion, SA Champion OBT A SONG OF FIRE AND ICE JM, Kusa Nat Dog 2023, ZAW ’23, ZAW’24. Jon Snow se volle name.)