Landelike blitspatrollie slaan toe op dwelmvervoer via R62

Die strykplank waarin 93 Mandrax-tablette versteek was. Foto verskaf

’N 33-JARIGE man is Saterdag buite Ladismith deur lede van die landelike blitspatrollie in hegtenis geneem nadat 200 Mandrax-tablette en 50 gram Tik in sy bagasie gevind en gekonfiskeer is. Die man is ’n inwoner van Varkieskloof, ’n informele woonbuurt in Ladismith.

Volgens kapt Malcolm Pojie, polisiewoordoerder vir die Suid-Kaap, het die blitspatrollie ’n voertuig-kontrolepunt op die R62 opgetel nadat inligting ontvang is oor die vervoer van dwelms. ’n Verdagte voertuig wat vanaf Kaapstad op pad was, is sowat 10 km buite Ladismith van die pad getrek.

Verlede Donderdag (22 Julie) is nog ’n deurbraak gemaak teen die onwettige vervoer en verspreiding van dwelms in afgeleë landelike gebiede toe drie mense van 20, 31 en 33 jaar in hegtenis geneem is vir die onwettige besit van dwelms.

Pojie sê dié drie het ook van Kaapstad met die R62 gereis. Vier pakkies dagga is in ’n vroulike verdagte se drasak gevind, en 93 Mandrax-tablette weggesteek in die pote van ’n strykplank wat ’n man gedra het. ’n Derde verdagte is na die Allan Blyth Hospitaal in Ladismith geneem waar mediese personeel sewe Mandrax-tablette en 26 gram Tik uit sy rektum verwyder het.

Al vier verdagtes het Maandag (26 Julie) in die Ladismith Landdroshof verskyn vir die onwettige besit van dwelms.

Die bevelvoerder van die Eden Kluster, gnl maj Oswald Reddy, sê hierdie ingrypings van die polisie voorkom ernstiger misdade soos moord, roof, ernstige aanranding, huislike en geslagsgeweld. (Deur Liesel le Roux)