Die Ladismith Polisie se harde werk om die verspreiding van dwelmmiddels uit te wis, het Saterdag (18 September) vrugte afgewerp toe 100 Mandrax-tablette by ‘n 36-jarige man van Elsiesrivier gevind is. Die taxi waarin die man gery het, is nadat inligting uit die gemeenskap ontvang is op die R62 net buite Ladismith deur die polisie afgetrek. Die verdagte is na die Ladismith Polisiekantoor geneem waar die tablette versteek in sy rektum gevind is.
Die man is op waarskuwing vrygelaat en moet op 17 Januarie 2022 in die Ladismith Landdroshof verskyn op ‘n klagte van handeldryf of alternatiewelik besit van onwettige dwelmmiddels.
Die Suid-Kaapse Blitspatrollie het omstreeks 21:30 dieselfde dag ‘n 31-jarige man van Calitzdorp in hegtenis geneem vir die besit van onwettige ammunisie. Die polisie het weer eens op inligting vanuit die gemeenskap gereageer en weer ‘n taxi op die R62 tussen Ladismith en Calitzdorp van die pad getrek. Tydens die deursoeking van die voertuig is drie R1-rondes ammunisie, twee 9 mm-rondes en een R5-ronde in ‘n sak van die man gevind. Die ammunisie is gekonfiskeer en die man later op waarskuwing vrygelaat . Hy moet op 21 Maart op ‘n klagte van die onwettige besit van ammunisie verskyn.