Raad verkies nuwe leiers vir Oudtshoorn

Icosa kry twee topposte Die Groter Oudtshoorn se twee nuwe leiers wat verlede Vrydag deur die raadslede van die ANC, Icosa, Sarco en die EFF verkies is, is van links Vlancio Donson (Icosa, burgemeester) en Barbara Owen (Icosa, speaker). By hulle is die onderburgemeester, Gaven Juthe (Sarco) wat in sy pos aanbly. Foto: Liesel le Roux

DIE Groter Oudtshoorn het sedert verlede Vrydag ’n nuwe burgemeester en speaker nadat Vlancio Donson en Barbara Owen, albei van Icosa, tydens ’n spesiale raads-vergadering deur ’n meerderheid van dertien raadslede eenparig tot onderskeidelik burgemeester en speaker verkies is.

Dié dertien raadslede van die ANC, Icosa, Sarco en die EFF het voor die verkiesing van Donson en Owen eers eenparig mosies van wantroue in die uitgaande burgemeester en speaker, Chris Mac­pherson en Julia le Roux (albei DA) aanvaar.

Die vergadering is deur die munisipale bestuurder van Overstrand, Dean O’Neill, gelei totdat ’n nuwe speaker verkies is.

Dié prosedure het geskied in opdrag van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, aangesien Le Roux siek was en nie die vergadering kon bywoon om as speaker voor te sit nie.

Die twaalf DA-raadslede het nie die raadsvergade­ring bygewoon nie.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het die naweek in ’n persverklaring aangedui dat burgemeester Donson nog nie sy burgemeesterskomitee aangewys het nie.

Hieroor het DA-raadslede nie vergadering bygewoon nie
Volgens Macpherson het die DA-raadslede nie die vergadering bygewoon nie, omdat die party nie deel wou wees van ’n onwettige vergadering wat strydig was met ’n hooggeregshofbevel nie.

“Die opposisie se agenda het aangedui dat hulle die munisipale bestuurder gaan vervang en direkteure gaan verander wat teenstrydig is met die hofbevel wat regter Erasmus gelewer het,” het hy gesê.

Macpherson verwys hiermee na ’n uitspraak van regter Nathan Erasmus op 10 September in die Hooggeregshof in Thembalethu dat die status quo by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit moet geld ten opsigte van die poste van munisipale bestuurder en direkteure totdat hy uitspraak gee oor ’n hersieningsaansoek van die munisipaliteit oor die kwessie.

Die hersieningsaansoek sal waarskynlik in Oktober voor die Hooggeregshof dien.

Die DA se twaalf raadslede verteenwoordig egter ’n minderheid in die raad nadat die party verlede jaar twee setels in ’n tussenverkiesing aan die ANC afgestaan het en hulle teenwoordigheid by die vergadering sou waarskynlik nie ’n verskil aan die uitslag gemaak het nie. (Sien ook “agtergrond” onder).

Macpherson sê die DA glo kiesers sal nou sien wat gebeur “as die stert die hond swaai.

“Om te stem vir klein partye gaan ons dorp vernietig soos vyf jaar gelede. Ons is demokrate en aanvaar die meerderheid se besluit om die enigste twee lede van Icosa tot burgemeester en spea­ker te verkies. Die ANC is regtig desperaat om nou net voor die verkiesing mag oor te neem en die vraag is hoekom.

“Weet net dat Oudtshoorn se kiesers nie sal toelaat dat die munisipaliteit weer soos onder hul vorige beheer geplunder word nie toe ons met miljoene rande se skuld gelos is. Ons mense moet self op 1 November oordeel.

“As uitgaande burgemeester glo ek Oudtshoorn verdien net die beste. Weet net ons sal dit kan laat gebeur.”

• Die ANC en burgemeester Donson van Icosa is genader vir reaksie op die verkiesing van die nuwe leiers. Hul kommentaar sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.

Agtergrond: So word DA se meerderheid in 2016 ’n minderheid in 2020

Die partye wat raadslede na die plaaslike rege­rings­verkiesing van 2016 verteenwoordig het, was: DA: 14 (55% van stemme), ANC: 7 (27,2%), Icosa: 2 (6,5%), Sarco: 1 (2,7%) en EFF: 1 (1,6%).

Onmin onder DA-raadslede lei in 2020 tot die bedanking van die vorige burgemeester (Colan Sylvester) en drie DA-wyksraadslede. In ’n tussenverkiesing in die drie wyke wen die ANC twee van die DA-wyke. Die DA het daarna 12 en die ANC 9 raadslede. 13 raadslede is nodig vir ’n meerderheidstem in die raad. (Deur Liesel le Roux)