DIE Ladismith Polisie het op Erfenisdag sewe mense in hegtenis geneem nadat hulle die dag tydens twee polisieoptredes – een op die Ladismith/Laingsburg-pad en die ander by ’n koshuisperseel – in hegtenis geneem is op klagtes van dwelmhandel.
’n 31-jarige man verskyn vandag in die Ladismith Landdroshof nadat die sigbare polisiëringseenheid Vrydagoggend (24 September) op die Ladismith/Laingsburg-pad ’n Toyota Hilux-bakkie afgetrek en die bakkie en twee insittendes deursoek het. ’n Plastieksak met 800 Mandrax-tablette wat toegedraai was in foelie en deur die man in ’n geel plastieksak voor in sy hemp versteek was, is gevind. Die waarde van dié tablette is R48 000.
Vrydagaand het dieselfde eenheid ses verdagtes in hegtenis geneem nadat 79 bankies Tik en 10 heel Mandrax-tablette en 21 kwarttablette by ’n koshuisperseel in Dirk Bosmanlaan gevind is. Die soektog is gedoen nadat die polisie inligting ontvang het van die onwettige handel in dwelms op die perseel.
Almal in die onmiddellike omgewing van die dwelmvonds is in hegtenis geneem.
Ses verdagtes tussen 18 en 35 jaar oud, vyf mans en een vrou, is vrygelaat op ’n waarskuwing om op 28 Maart 2022 in die Ladismith Landdroshof te verskyn, hangende verdere ondersoek en ontleding van die dwelms.
Polisie vind dwelms op Ladismith/Laingsburgpad en by koshuis
Onder die dwelms wat gevind is, was dié Mandrax-tablette toegedraai in foelie. Foto verskaf