Laatkommers na hof se borgtog ingetrek

DIE verhoor van die ses mans van Rose Valley wat van poging tot moord op ’n 27-jarige man aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof finaal uitgestel nadat twee se borgtog ingetrek is omdat hulle nie betyds by die hof was nie.

Robert Plaatjies (36), Percival Lucas (26), Dawid Claassen (38), Elzane Plaatjies (33), Ronaldo Dreyer (25) en Justin Visagie (28) word daarvan aangekla dat hulle Tylor Britz op 17 Desember 2019 met kapmesse aangeval het.

Britz het getuig dat hy vir sy lewe ge­smeek het toe Robert Plaatjies glo vir Lucas en Dreyer gesê het om hom dood te maak. Sy maag is met ’n panga oop-gekap.

Streeklanddros Daniel Boks het gelas dat Claassen en Dreyer se borgtog ingetrek en hulle ook aangehou word. “Die beskuldigdes wat tot nou in aanhouding was, is geregtig op die spoedige afhandeling van die saak wat deur Claassen en Dreyer vertraag word,” het Boks gesê.

Die hof het reeds die getuienis van Ro­bert Plaatjies, Lucas en Claassen aan­ge­hoor wat al drie ontken dat hulle Britz aangeval het. Plaatjies het getuig dat hy die betrokke dag op ’n muurtjie gesit en koffie drink het, toe hy ’n geskree en ge-raas gehoor en ook gaan kyk het.

Volgens Lucas het Britz hom geklap en met ’n skêr probeer steek. Hy het opge­staan en huis toe gestap en weet nie hoe Britz sy beserings opgedoen het nie.

Claassen het getuig dat hy nie eers op die toneel was nie en nie weet waarvoor hy in hegtenis geneem is nie. “Ek het getuies wat kan getuig dat ek heeldag by die huis was,” het Claassen getuig.

Die saak is as voorkeursaak vir die getuienis van Elzane Plaatjies, Ronaldo Dreyer en Justine Visagie tot 28 Julie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Laatkommers na hof se borgtog ingetrek"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*