Bande brand nadat rook oor huise waai

Die toneel by die ingang van Johnson's Bricks waar inwoners Saterdagaand kortstondig buitebande gebrand en klippe na voertuie gegooi het. Foto: Stefan Skapie Goosen

WEERSOMSTANDIGHEDE veroorsaak soms dat rook van die steenmakery net buite Oudts­hoorn langs die De Rust-pad, Johnsons Bricks, laag bly hang en oor mense in die omgewing se huise beweeg, sê die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson.

Macpherson het op ’n vraag van Die Hoorn gereageer nadat inwoners van Rosevalley vroeg Saterdagaand kortstondig bande by die ingang na Johnson’s Bricks gebrand en klippe na verbygaande voertuie gegooi het.

Die rook wat vroegaand oor huise gewaai het, het klaarblyklik aanleiding gegee tot die bandebrandery. Nadat die polisie egter vinnig op die toneel was, is die mense uitmekaar en die brandende bande se vlamme geblus.

Volgens Macpherson is die raad bewus van klag­­tes van inwoners oor die rook en het hy en van die raadslede onlangs met van hulle gesprek ge­voer. Hy en van die inwoners het ook saam Johnson’s Bricks besoek waar die probleem bespreek is.

Macpherson sê Johnson’s Bricks het planne om die steenmakery aan te pas sodat die stene onder- dak sal wees met ’n uitsuigtoring wat die rook hoog in die lug sal uitlaat, maar dat die kundiges uit die buiteland wat dié projek moet oprig, nie tans na Suid-Afrika kan reis nie as gevolg van Covid-19-regulasies.

Macpherson sê dit wil voorkom of veral mis­tigheid en reënweer keer dat die rook opstyg. Hy sê die Tuinroete Distriksmunisipaliteit wat verantwoordelik is vir die luggehalte in die streek, toets gereeld die lug daar om seker te maak dit bevat nie iets wat skadelik is vir inwoners nie. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Bande brand nadat rook oor huise waai"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*