Afgedankte onderwyser moet heraangestel word

DIE Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) is gelas om ’n onderwyser van De Rust wat in 2019 af­gedank is, agt maande se salaris (sowat R250 000) te betaal en hom her aan te stel.

Die onderwyser, Lionel Damons, is deur die Onderwys-arbeidsverhoudingsraad onskuldig bevind is op klagtes dat hy ’n gaad 7-leerder aangerand en ’n ander geld aangebied het om daaroor te jok.

Volgens adv Steven Lourens wat Damons by sy tugverhoor verteenwoordig het, het die raad bevind die departement se optrede was onredelik. Damons moet nie later nie as 1 Augustus 2021 by die De Rust Primêre Skool of enige ander skool in die distrik heraangestel word.

Damons is daarvan beskuldig dat hy die leerder op 28 November 2018 met ’n stuk pyp geslaan en ’n ander leerder R100 aangebied het om oor die beweerde voorval te jok.

Damons het onskuldig gepleit op al die klagtes. Volgens hom het hy wel ’n stuk pyp gehad, maar nie die kinders daarmee geslaan nie, maar gebruik het vir aanwysings op die skryfbord.

Die raad het bevind dat die twee leerders mekaar weerspreek het.

Volgens die raad het Damons twee vorige oortredings erken met ’n pleitooreenkoms en boete van R3 000 en ’n finale skriftelike waarskuwing geldig vir ses maande, wat 15 dae voor die beweerde voorval verval het.

Hy het ook berou getoon ten opsigte van dié oortredings.

Volgens Lourens is Damons baie gelukkig met die bevinding en kan hy nou met sy lewe voortgaan.

Die WKOD sê dit bestudeer nog die uitspraak van die raad en ’n besluit is nog nie geneem om daarteen te appelleer of nie. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Afgedankte onderwyser moet heraangestel word"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*