Man skuldig aan aanranding

’N MAN van Calitzdorp wat sy saamleefmaat met ’n stok oor haar kop geslaan het, is in die Oudts­hoorn Streekhof skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, waarna sy vonnis­oplegging vir ’n korrektiewe verslag uitgestel is.

Julie Nombekie het skuldig gepleit en erken dat hy op 27 Julie 2020 vir Rosaline Hufke met ’n stok geslaan het omdat sy weer dronk was.Volgens hom was hy baie kwaad vir haar en erken hy dat sy nie ’n wapen in haar hande gehad het nie.

Die stok het haar teen die voorkop getref en sy is nie ernstig beseer nie, het Nombekie in sy pleitverduideliking gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het op versoek van Nombekie se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, vonnisverrigtinge vir ’n korrektiewe verslag tot 10 Augustus uitgestel, nadat die staats­- aanklaer, Nadia Arnolds, die pleit aanvaar het.

• Hufke het na Nombekie se skuldigbevinding self in die hof verskyn op ’n klagte dat sy versuim het om op 1 Junie by die hof wees.

Sy het die hof meegedeel dat sy te dronk was waarop die landdros gesê het dat hy lank nie so ’n eerlike antwoord van ’n beskuldigde gekry het nie, en ’n lasbrief gekanselleer. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Man skuldig aan aanranding"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*