Korona: Maak so by Mediclinic

Twee mense staan die week buite die Queen’s Apteek op Oudtshoorn en wag. Foto: Stefan Skapie Goosen

DAAR is ’n spesifieke parkeerterrein vir mense wat vir ’n koronavirustoets na die Mediclinic Klein Karoo gaan, sê Hannes Stegmann, bestuurder van die hospitaal.

“Mense word versoek om in hul motors te wag todat die verpleër hul kom haal,”sê hy.

Hierna sal die pasiënt ’n vraelys invul en sal daar bepaal word of hy of sy wel vir ’n toets moet gaan.

As dit nodig is, sal ’n neus- en keeldepper deur Pathcare gedoen word.
Die persoon sal hierna vir ’n minimum van 14 dae of totdat die toets­uitslae ontvang word in selfisolasie moet bly.

Die Mediclinic staan gereed indien mense positief toets en in die hospitaal in afsondering gehou moet word, sê Stegmann.

“Ons het twaalf beddens vir positiewe pasiënte.”

Hy sê daar is geen positiewe koronavirusgeval op die dorp nie.

’n Koronavirustoets kos sowat R1 250, maar word wel deur sommige mediese fondse betaal. (Deur Angelique Erasmus)