Kommer oor rivierplakkers

Strukture teen die heining van ’n groep wat vir meer as vier maande reeds in die rivier tussen Vrede- en Bloemstraat woon. Foto Angelique Erasmus

KOMMER heers oor ’n groep persone wat vir meer as vier maande in die rivier tussen Vrede- en Bloemstraat woon.

Daar is ’n hele paar ‘strukture’ opgeslaan teen die heining wat aan die munisipaliteit se rugbyvelde grens (oorkant Laerskool Wesbank se sportgronde).

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit is hulle bewus van die persone wat daar woon, en is daar Woensdag ’n klag van betreding deur die Oudtshoorn Munisipaliteit by die Oudtshoorn Polisie ingedien.

Volgens Christo Cloete, wykskommiteelid van Wyk 3, ondervoorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak en voorsitter van die Wesbank Buurtwaggroep, het hy al met hulle gesels om uit te vind waar hulle vandaan kom, en is dit die persone wat in die sakke krap en daagliks so iets te ete soek.

Hy vertel aan Die Hoorn dat daar aan die begin sowat 5 mense was, en dat die hoeveelheid mense wat nou daar plak meer word.

Afgesien van die gevaar wat dit vir die omliggende inwoners inhou, is dit ook onhigiënies omdat hulle nie toegang tot sanitasie het nie.

Daar word ook vuur gemaak, wat ’n groot brandgevaar inhou vir almal wat daar naby woon en vir die riete en klomp doringbome in die rivier.

“Dit lyk ook nie goed vir nuwe intrekkers wat dalk by die nuwe uitbreiding wil koop nie, omdat die plakkers oorkant die nuwe ontwikkeling woon,”

Volgens Cloete het hy al met hulle gesels om uit te vind waar hulle vandaan kom, en is die persone wat in die sakke krap en daagliks so iets te ete soek.

“Ek het Dinsdag die maatskaplike werkster na die betrokke persone geneem, en sy gaan van hulle kant af kyk om alternatiewe akkommodasie te kry vir die groep, maar dit kan lank neem,” sê hy.

“Ongelukkig hou dit ’n gevaar in vir die gemeenskap dat plakkers op ons voorstoep gaan opvlam en die munisipaliteit moet dringende aandag aan sulke situasies gee,” sluit hy af. (Deur Angelique Erasmus)