Uitsetting ter syde gestel

DIE CP Nel Museum op Oudtshoorn het op 6 Julie 2023 ’n dagvaardiging ontvang vanaf die Oudtshoorn Munisipaliteit, met ’n uitsettingsbevel wat op die trustee-raad van die museum beteken is.

Die uitsettingsbevel wat Maandag in werking moes tree, is die gevolg van konflik tussen die museumbestuurder en die munisipaliteit wat reeds in 2022 ontstaan het.

Tydens ’n media-sessie wat Dinsdag in die Oudtshoorn Burgemeester se kantoor plaasgevind het, het Chris Macpherson aan die pers verduidelik dat die uitsettingsbevel nie die sluiting van die museum vereis nie, maar die onttrekking van die museumbestuur en personeel.

Daar was egter Dinsdagaand ’n vergadering wat baie positief verloop het, en het Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeester laat weet en Woensdagoggend is die volgende mediaverklaring aan Die Hoorn gestuur.

Na afloop van ’n onlangse gesprek met die nuutverkose raad van die CP Nel-museum en ’n vergadering van die museumraad Dinsdagaand, is die burgemeester vol vertroue dat die kwessies tussen die museum en die munisipaliteit bygelê is.

Die burgemeester het Woensdagoggend gesê: “Ek is verheug dat die nuwe museumraad met ons in gesprek getree het en die onderneming gegee het dat daar ’n nuwe era van samewerking tussen die museum en die munisipaliteit betree word.

“Die museum behoort aan Oudtshoorn en moet tot voordeel van Oudtshoorn bestuur word. Daar word binnekort ’n formele gesprek tussen die museumraad en die munisipaliteit gehou waartydens die pad vorentoe bespreek gaan word.”

Twee van Oudtshoorn Munisipaliteit se raadslede, Johan Fourie en Jerome Lambaatjeen maak deel uit van die kommitee. (Deur Angelique Erasmus)