Kommer ná nog ’n pypbreuk vanaf dam

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit ondersoek tans die rede vir ’n tweede pypbreuk op die watertoevoerlyn vanaf die Raubenheimerdam na Oudtshoorn.

Volgens Chris Swart, senior bestuurder: water en riool by die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die pyp op 31 Mei 2020 ’n tweede keer gebreek, net ’n entjie stroomop van ’n vorige pypbreuk einde April.

Net soos met die herstel van die eerste pypbreuk is watertoevoer vanuit die Raubenheimerdam tydelik gestaak terwyl die herstel van die tweede breuk afgehandel word. Tydens dié herstel van die pyp het Oudtshoorn sy water direk vanaf die Melvilledam gekry terwyl die reservoirs in die dorp ook oor genoeg water beskik het om die piekvloeie te akkommodeer.

Swart sê die tweede breuk so gou na die vorige een is kommerwekkend.

“Die moontlikheid dat die pyp, wat reeds vanaf 1972 in gebruik is, vervang sal moet word, word nie uitgesluit nie, en die hulp van ’n kundige is verkry om te help bepaal of die pyp self of iets anders dalk die oorsaak is van die breuke. Daar is reeds vir befondsing voorsiening gemaak op die 2020/21-begroting indien dit nodig sal wees om die pyp te vervang.”

Volgens Swart is die tweede breuk in die pyp – van asbessement – verlede week herstel en getoets, waarna die om­hul­sel om die pyp voltooi is. Die pyp word vandeesweek weer in gebruik gestel. (Deur Liesel le Roux)