DIT bekommer hom dat inwoners van Dysselsdorp, party mense met chroniese siektes en kinders, vir lang tye buite die kliniek in die son moet staan of sit en wag, sê ’n gemeenskapsleier van Dysselsdorp, George Meyer.
Meyer wou weet of die departement nie kan help met die skep van skuiling vir inwoners nie.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete, word toegang tot die perseel die afgelope twee weke by die ingang gereguleer as gevolg van ’n toename in Covid-19 . Sy sê dit is noodsaaklik om te voorkom dat mense op die terrein saamdrom ter wille van die publiek en personeel se veiligheid wat die departement se top-prioriteit is.
Sy het pasiënte aangemoedig om slegs een uur voor hul afsprake by sekuriteit by die ingang aan te meld sodat hulle nie so lank hoef te wag nie.
“Die noodsaak om kontak tussen mense te beperk, het veroorsaak dat pasiënte ongelukkig nie meer op die kliniekterrein kan kom wag vir hul afsprake nie.
“Met die onlangse toename van Covid-19 getalle in die Dysselsdorp-gemeenskap is die samedromming van mense by die ingang van die kliniek egter ook ’n groot risiko vir veral ons siek, verswakte en bejaarde pasiënte.”
Sy sê met die samedromming van mense buite was daar boonop reeds sewe voorvalle van diefstal en vandalisme.
Die volgende verdere gereguleerde poging word volgens Ferreira by die kliniek toegepas:
• Alle siek, verswakte en bejaarde pasiënte word geprioritiseer en dadelik toegelaat.
• Noodgevalle word dadelik hanteer.
• Alle pasiënte word een uur voor hul afsprake toegelaat op die perseel.
• Pasiënte wat nie afsprake het nie, kry dadelik ’n afspraak en word dan een uur voor die afspraak toegelaat.
• Ongeskeduleerde pasiënte vir byvoorbeeld gesinsbeplanning,TB DOTS, die trek van bloed en apteekbesoeke, word drie op ’n slag in die gebou toegelaat. (Deur Liesel le Roux)