Storting van karkasse onwettig

DIE storting van karkasse en ander diere-afval op die Oudtshoorn-stortingsterrein – soos die afgelope week op Oudtshoorn plaasgevind het – is volgens die Oudts-hoorn Munisipaliteit onwettig.

Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woord­voer­der, sê die munisipaliteit het die klag ondersoek en bevind dat dié storting onwettig is. Die oortreder is volgens hom oor die klag en die prosedure wat gevolg moet word wanneer van diere-afval ontslae geraak word, ingelig.

“Die munisipaliteit is gelisensieer om diere-afval op die fasiliteit te bestuur. Diere-afval moet op weeksdae op ’n spesifieke plek weggegooi word en onmiddellik deur ons kontrakteur hanteer word om enige oortreding te vermy,” het hy gesê.

Op foto’s is volstruiskarkasse na be-wering Saterdag 5 Desember deur ’n plaaslike slaghuis gestort.

Mens sien talle van die karkasse versprei oor die tiep, en so ook hoe sogenaamde sakkrappers op die karkasse toeslaan om oorblywende vleis aan die bene te eis.

Die foto’s is onmiddellik aan die munisipaliteit gestuur om die kwessie aan te spreek.

Volgens Mangqwengqwe is die oortreder ingelig oor die klagte en is hulle deur die munisipaliteit in kennis gestel van standaardprosedures.

In sommige foto’s kan vleis-verpakking met verwysingsnommers op gesien word. Een van hierdie maatskappye, Lynca Meats, het vandeesweek gesê dat hulle beslis nie die proses van enige onwettige storting goedkeur nie. Die karkasse is ook nie een van hul produkte nie.

“As ons om een ​​of ander rede van ’n kliënt vereis om voorraad te stort, is dit ’n vereiste dat ons ’n afskrif van hul stortingsertifikaat ontvang,” het Verity London, kliënte-beampte, gesê. Sy het bygevoeg dat hulle nie inligitng oor wie die kliënt moontlik mag wees kan verskaf nie, weens verskeie redes. (Deur Stefan Skapie Goosen)