DIE 33-jarige buitelander, Jude Egbuna – een van drie mans wat op 10 November in ’n huis in Adderleystraat in hegtenis geneem op aanklag van die handel in dwelms – sal volgende Dinsdag (15 Desember) in die Oudtshoorn Streekhof verskyn vir sy borgaansoek.
Egbuna is op Oudtshoorn in hegtenis geneem tydens ’n urelange optrede deur lede van Oudtshoorn Misdaadintelligensie, Eden Kluster Misdaadvoorkoming, Oudtshoorn Misdaadvoorkoming en die Attaqua K9-eenheid (honde-eenheid).
Die verskeie eenhede het omstreeks 12:10 die dag toegeslaan, met meer as R50 000 kontant wat in ’n slaapkamer in die huis gevind is. Daar is ook deur die polisie beslag gelê op 12 pakkies Tik, 1 190 Mandrax-tablette en 103 gram kokaïen wat in ’n houtstruktuur agter die huis gevind is.
Dié dwelms was volgens die polisie bestem vir verspreiding op Oudtshoorn. (Deur Stefan Skapie Goosen)