DIE koalisie tussen die ANC en Icosa in Kannaland is waarskynlik in gedrang nadat ’n provinsiale koördineringspan van die ANC volgens ’n ingeligte bron die plaaslike ANC-tak besoek het.
Dit volg op nuusberigte in verskeie dagblaaie dat die ANC besluit het om hul ooreenkoms met Icosa in Kannaland te beëindig, en dat die ANC-raadslid, Nicky Valentyn, ook sal terugstaan as speaker.
Valentyn het vroeër die week op navraag gesê hy is bewus van hierdie gerugte, maar dat hy self nog niks skriftelik ontvang het nie.
Jeffrey Donson, Icosa-burgemeester van Kannaland, het op sy beurt gesê niks in dié verband is ook met hom bespreek nie.
Icosa en die ANC het ’n meer-derheidskoalisie in Kannaland gevorm na die onlangse plaaslike verkiesing.
Kannaland se raad bestaan uit sewe lede, met drie raadslede van Icosa, twee van die ANC en een elk van die DA en die Kannaland Independent Party (KIP). (Deur Deon Meyer)
Koalisie tussen Icosa en ANC in gedrang
