Die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes (Sanjo) se jaarlikse adventkonsert word vanjaar aanlyn aangebied – vir die eerste keer in vennootskap met Klein Karoo Klassique en die KKNK.
Die orkes gaan ’n program van barokmusiek uitvoer wat jy in die gerief van jou eie huis kan geniet.
“Dis ’n voorreg om hoegenaamd te kan optree in dié tyd,” sê Sophia Welz, besturende direkteur van Sanjo. “Die konsert is vir ons ’n baken van hoop sowel as ’n toonvenster van ons jong musici en die kunste.”
Elke kaartjie wat verkoop word, sal help bydra dat Sanjo kan voortgaan met hul wonderlike werk, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk wat Klein Karoo Klassique en die KKNK aanbied. “Die jaar 2020 was ook vir Sanjo ’n moeilike jaar. Ons glo dis belangrik om jong talent te ondersteun.”
Die konsert duur 45 minute met ’n klein ensemble-groep wat die uitvoering sal lewer: Gilah Kellner (viool), Jason Oppelt (viool), Kamohelo Moshoaliba (altviool), Vaughan McLea (tjello), Kyle Smith (kontrabas) en John Reid Coulter (klavesimbel).
Die konsert sal beskikbaar wees om te kyk vanaf 18:00 op 20 Desember tot middernag op 31 Desember.
Kaartjies (R80 per gewone kaartjie en R50 vir studente en pensioentrekkers) beskikbaar by Quicket (quicket.co.za). Wanneer jy ’n kaartjie koop, ontvang jy ’n skakel wat jy kan gebruik om die konsert op die toestel van jou keuse te stroom.