DIE bekende kunstenaar van Prins Albert, Hekkie Moos, is Dinsdagoggend in die ouderdom van 80 oorlede, klaarblyklik aan sy hart.
Moos is in 1940 op Oudtshoorn gebore en het in 1961 by Prins Albert Primêr as Engels- en kuns-onderwyser begin skoolhou. Hy het in 1963 sy kunswerk begin uitstal en later sy kunsstudie by die kunstenaar Amos Langdon voortgesit.
Een van Moos se kenmerkendste eienskappe as kunstenaar was dat hy op enige stukkie papier waarop hy sy hande kon lê, geskilder het. Een van sy geliefkoosde mediums was balpuntpen.
Derek Hendriks van Prins Albert, skrywer van die boek Oppe en affe, sê van Moos: “’n Mens het baie onnies gekry wat destyds eerder op die rottang gekonsentreer het – nie Meneer Moos nie. Hy was, tussen al die ander, ’n model-onderwyser en later my rolmodel. Deur sy kommunikasievermoëns en menswees het hy diep onder my vel ingekruip.”
Volgens Mary-Ann Botha van die Prince Albert-kunsgalery was Moos een van die dorp se bekendste inwoners. “Hy het die kunsgalery dikwels be- soek. Hy het kuns liefgehad. Hy het ’n groot bydrae tot ons gemeenskap gelewer – nie net as kunstenaar nie, maar as onderhoof en koormeester.”
In sy boek Stories uit Lap skryf Poem Mooney dat Moos op Prins Albert “tuisgekom het”.
“Lank voordat die dorp die hedendaagse skilderagtige kunstenaarshawe van rykes en kunstenaars geword het, was Hekkie Moos al daar. Lank voor buitelanders, miljoenêrs, digters en skrywers Prins Albert as skuilbos en veilige hawe van die gejaagdheid ontdek het, was dié juweelmens ’n ‘toe-reeds’. Die mense van die dorp sien hom as ‘Meester Hekkie’. Die man met die toonvurk in die hand.
“Dis ’n onomstootlike feit dat Meester Hekkie eintlik ’n wêreldberoemde en belese kunstenaar is.”
Hy word oorleef deur sy vrou, Glenda.
• Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie bekend nie. (Deur Marlene Malan)
Bekende kunstenaar oorlede
