Klein Karoo International en Mosstrich kry groen lig vir samesmelting

Klein Karoo International (KKI) en Mosstrich het verlede Donderdag (15 Augustus 2019) die groen lig by die Mededingingskommissie gekry om voort te gaan met hul planne om saam te smelt. Dié samesmelting moet egter aan ‘n reeks voorwaardes voldoen.
Die Mededingingskommissie het verlede jaar KKI en Mosstrich se aansoek om samesmelting afgekeur omdat dit gevrees het die samesmelting kan tot ‘n amperse monopolie in die volstruisbedryf lei. Die twee maatskappye het in Julie by ‘n tribunaal die geleentheid gekry het om die kommissie te oortuig dat die samesmelting tot voordeel van die volstruisbedryf en die stabilisering en voortbestaan van die bedryf sal wees.
Die voorwaardes vir die samesmelting sluit die volgende in:

• Volstruisvere: Die nuwe maatskappy moet ten minste 40% van sy slagvolstruise se vere jaarliks op tender beskikbaar stel sodat vere steeeds beskikbaar sal wees vir derdepartye soos Lewitton Industrial CC, Rancho Las Plumas en die Opsa Groep wat vere wil aankoop. Volstruisboere wat hul volstruise na die slagpale bring, moet ook toegelaat word om die vere te behou as hulle wil.

•  Volstruisvleis:  Die nuwe maatskappy moet ‘n sekere hoeveelheid van sy volstruisvleis vir die plaaslike Suid-Afrikaanse mark beskikbaar stel. Die hoeveelheid is nie bekend gemaak nie.

• Toegang tot abattoirs en looierye: Die nuwe maatskappy moet sy abattoirs en looierye – indien daar kapasiteit is –  teen regverdige terme aan ander partye beskikbaar stel.

• Huidige kontrakte van Mosstrich met Buffelskom Boerdery en Ostriland word voortgesit, onderhewig aan ‘n kennisperiode van 24 maande deur enige van die partye.

 • Personeel: Geen personeel mag vir ‘n tydperk van drie jaar verminder (retrench) word as gevolg van die samesmelting nie.