
DIE 60 jaar-oue trekklavier van Janine Fourie, Oudtshoorn-musikant, is die naweek in die veld by Oudtshoorn gevind! Die trekklavier wat aan haar oupa behoort het en baie sentimentele waarde vir Janine het, is verlede week uit haar motor gesteel.
‘n Dankbare Janine, wat die trekklavier gereeld in haar vertonings gebruik, het vanoggend gesê die trekklavier was nog in die kas waarin dit gesteel is, en is steeds in ‘n goeie toestand.
Dit is Saterdag deur ‘n man gevind wat in die veld in die omgewing van Spekkop gestap het. Hy het die trekklavier na iemand anders gevat wat dit herken en Janine en die polisie laat weet het.