
Die klagte van strafbare manslag teen die vrouebestuurder van die motor wat op 8 November 2024 op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat op Oudtshoorn gebots het met die motor van ’n jong onderwyser wat na die ongeluk dood is, is Dinsdag 10 Junie, in die streekhof deur die staat teruggetrek.
Die 40-jarige Samantha Meyer word nou net van bestuur onder die invloed van alkohol aangekla en die saak is deur landdros Zuastrid Deyce vir drie dae se verhoor, van 7 tot 9 Julie 2025 uitgestel.
Die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, het die hof gister meegedeel dat die senior staatsaanklaer beslis het om die klagte van strafbare manslag teen Meyer terug te trek. Geen redes vir die beslissing is in die hof gegee nie.
Die 24 jarige Peter-John “Pokkels” Sauls, wat ʼn onderwyser aan die PJ Badenhorst Primêre Skool op Dysselsdorp was, is na die ongeluk die betrokke aand deur twee verbygangers uit sy brandende Volkswagen Golf gehaal en is kort daarna op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Meyer is op waarskuwing en word deur Bulelani Bans van Knysna verteenwoordig. (GARNETT WICOMB)
(Na afloop van die hofverrigtinge het Die Hoorn boodskappe van inwoners ontvang wat ontsteld was dat die klag van strafbare manslag teruggetrek is. Die Hoorn het ʼn navraag in dié verband aan die direkteur van openbare vervolging gestuur. – Redakteur)