Huis Triomf triomfeer werklik

Foto bo: Die ingang van die gebou kort na die opknapping.‘n Kantoorgebou en ontspanningslokaal word nou aan die voorkant beplan 2. Die gebou soos hy voorheen gelyk het. 3. Die swembad pas nadat dit verlede jaar gebou is. 4 & 5. Geboue voor en na opknapping. Foto’s verskaf

Diegene wat nie die afgelope drie jaar by Triomf El Roi, die kinderhuis vir seuns in Oudtshoorn, was nie, sal verstom staan oor die verbeteringe wat sedert 2022 daar aangebring is.

Vier jaar gelede, toe mediaberigte aangekondig het dat die kinderhuis weens finansiële redes en enorme uitdagings gaan sluit, het The Barn Church van Gauteng onder leiding van Pastoor Roelof Kwant, ingespring en reuseveranderinge aangebring. Kwant en sy gemeente het die eens somber en vervalle gebou oor vier jaar teen ’n koste van ongeveer R2,5 miljoen radikaal verander en verbeter.

Nou word daar as deel van die raad se sewejaarplan, verdere verbeteringe en aanbouings van R3,3 miljoen beplan.

Die naam van die huis word ook binnekort amptelik na El Roi (God sien) verander. Die Hoorn het vandeesweek met twee lede van die raad, Christo Nel en Willie Coetzee, gesels oor dit wat reeds vermag is en wat nog beplan word.

Sedert 2022 is ’n afgeleefde perseel wat vir die kinders weinig inspirasie en hoop gegee het, omskep in ’n ruimte waar hulle nie net veilig kan wees nie, maar ook by skole ingeskryf word en deelneem aan verskeie programme.

Volgens Nel en Coetzee wat op die raad van agt lede dien, is daar tans 49 seuns tussen die ouderdom van 7 en 17 in die tehuis.

“Toe Pastoor Kwant se gemeente ingetree het, kon die perseel slegs 30 seuns huisves, maar die toestande was haglik. Nou kan ons 60 seuns huisves, maar ons wil met aanbouings vir hulle ’n groter ruimte skep,” sê Nel.

Die aanvanklike verbeteringe het ’n nuwe kombuis, nuwe badkamers, nuwe vloere, kaste, vensters en nuwe toerusting asook ’n swembad ingesluit.

Nou is planne opgetrek om nog ’n ablusieblok aan te bou sodat junior en senior seuns aparte geriewe het. Die planne maak ook voorsiening vir ’n nuwe kantoorgebou, aktiwiteitslokaal, eetsaal en verbetering van die buite-area.

“Die aanbouings is nie om meer seuns te kan akkomodeer nie, maar om die spasie vir 60 seuns groter, gerieflike en meer prakties te maak. Daar is byvoorbeeld tans nie ’n saal waar programme aangebied kan word nie – ons moet dit buite doen,” sê Coetzee.

Wat dienste en programme aanbetref was daar oor die afgelope vier jaar groot vooruitgang. Die sentrum wat destyds een bussie en wisselende personeel gehad het, het nou twee bussies, ’n bakkie en ’n motor.

Wat personeel aanbetref is daar tans 8 jeugwerkers, ’n maatakaplike span van drie persone, twee voltydse werkers, ’n administratiewe beampte en ’n sentrumbestuurder.

Die pos as sentrumbestuurder word tans deur die oud-skoolhoof, Jacobus Francis, op vrywillige basis beman totdat die pos permanent gevul word.

“Hierdie is nou ’n tuiste vir die seuns waar hulle graag wil wees. Almal van hulle is in die skool en hulle is aktief by programme betrokke.

Nedbank borg byvoorbeeld ’n groep wat aan landloop deelneem, ons het ’n sokkerspan wat reeds liga-wedstryde speel, hulle kry swemlesse en daar is ’n musiekonderwyseres wat kom lesgee,” sê Nel.

Alhoewel verskeie besighede gereeld hulle dienste aanbied, is die finansiële uitdaging elke maand steeds groot.

Die sentrum ontvang ’n subsidie van die departement van sosiale ontwikkeling, maar moet elke maand ongeveer R35 000 bymekaarmaak.

Volgens Coetzee en Nel word hierdie tekort tans grootliks deur The Barn Church aangevul. As deel van hulle inisiatiewe om self ekstra fondse te genereer bied Triomf El Roi hierdie Saterdag, 14 Junie, ’n gholfdag aan en alle fondse word vir die sentrum gebruik.

Vir navrae oor die kinderhuis en om betrokke te raak, skakel Christo Nel by 072 316 5414. (HANNES VISSER)