Klaarstroom man in hof vir moord

DIE verhoor van ’n man van Klaarstroom wat van moord op ’n 28-jarige man aangekla word, het Maandag in die Oudtshoorn streekhof begin.

Lucano de Wee (26) word daarvan aangekla dat hy op 12 Maart 2022 vir Freek Jantjies (28) met ’n mes in die nek gesteek het. Jantjies is die volgende dag in ’n hospitaal op George dood.

De Wee pleit onskuldig en voer aan dat hy homself verdedig het toe die oorledene hom glo met ’n mes wou steek.

Twee ooggetuies, Jenile Katzen en Ronelle Campher het egter getuig dat die oorledene nié ’n mes by hom gehad het nie.

Volgens Katzen het hy die betrokke oggend saam met die beskuldigde, die oorledene en nog vriende aan ’n “kraantjie” wyn agter die huis van Ronelle Campher en Vernon Rondganger gedrink.

Katzen het ontken dat Rondganger met die bekuldigde baklei en hom gewurg het. Op ’n vraag van die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Eugene Roos van die regshulpraad, of hy alles duidelik kon sien, het hy “ja” geantwoord omdat dit “so voor nege” die oggend was.

Campher het getuig dat haar kêrel, Vernon Rondganger, op ’n keer kwaad geraak het vir die beskuldigde, hom voor die bors gegryp en twee keer met die kop geslaan het. Volgens haar was sy die enigste van hulle wat niks gedrink het nie.

Die oorledene het glo op ’n tydstip vir die beskuldigde gevra “wat sy storie is”, waarop die beskuldigde hom “baie hard” geklap het.

Volgens haar het sy daarna nog ’n geluid gehoor en gedink dat die beskuldigde die oorledene teruggeklap het. Sy was volgens haar verbaas om te sien die oorledene bloei omdat sy nie ’n mes gesien het nie.

Sy het ook op ’n vraag van die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, of daar ’n bakleiery tussen die oorledene en die beskuldigde was, “nee” geantwoord. Sy het ook gesê dit is onwaar dat die oorledene die beskuldigde met ’n mes wou steek.

Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla. (Deur Garnett Wicomb)