Boer gevonnis wat ontvoer

DIE boer van Aberdeen wat aan menseroof en seksuele aanranding van ’n vrou van De Rust skuldig bevind is, het verlede Woensdag in die Oudtshoorn streekhof ’n opge- skorte vonnis gekry. Hy is ook vir drie jaar in huisarres geplaas en moes die slagoffer finansieel vergoed.

Die 39-jarige Louis Lategan het op 15 Oktober 2021 ’n 39-jarige vrou van De Rust, Sonja Cloete, net buite die dorp opgelaai nadat hy haar gevra het om hom te gaan wys “waar die mense met die van Delport woon”. Volgens Cloete het Lategan haar toe gevra om haar bloes op te trek. Hy het haar borste met sy linkerhand betas. Sy het aan verbygaande vragmotorbestuurders gewys om stil te hou, maar sonder sukses.

Lategan het ’n paar kilometer verder stilgehou en haar afgelaai. Hy het vir haar gesê hy “wil nie hê die mense moet dink hy ontvoer haar nie”, en vir haar ’n pakkie sigarette gegee.

Lategan se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat die beskuldigde ’n eerste oortreder is en die klaer nie “gesleep, geblinddoek of vasgebind” was nie en nie enige beserings opgedoen het nie. Hy het ook glo “net aan een” van die klaer se borste gevat.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het gesê Lategan het ’n vrou van haar vryheid ontneem en saamgestem dat, hoewel dit ’n unieke geval is, dit steeds “’n ernstige misdryf” is waarvoor die beskuldigde gestraf moet word. Volgens die slagofferimpakverslag het Cloete gevoel dat daar inbraak gemaak is op haar privaatheid. Haar slaappatroon is ook nie meer dieselfde nie, sy is alewig bang en voel nie meer veilig op straat nie. Sy het finansiële vergoeding gevra vir die trauma.

Volgens Arnolds hoef menseroof nie altyd met geweld gepaard te gaan nie. Sy het egter toegegee dat die ontneming van die klaer se vryheid slegs ’n kort tydjie geduur het.

Die beskuldigde het onskuldig gepleit, wat volgens Arnolds ’n teken is dat hy geen berou toon nie.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat die klaer en haar suster betroubare getuies was.

Hy het die weergawe van die beskuldigde verwerp. “Dit was danksy die wakker optrede van die polisie wat die beskuldigde gou vasgetrek het,” het hy gesê.

Die hof het in ag geneem dat die beskuldigde ’n eerste oortreder is.

Hoewel hy negentien permanente werknemers op sy plaas het en by tye meer as ’n honderd tydelike werkers, kan die hof nie daarna kyk nie en moet ’n herstellende vonnis opgelê word.

“Hierdie is nogtans ’n ander soort menseroof. Iemand is mislei en die beskuldigde se optrede was skandalig en verkeerd.

Hy was nie eerlik met die hof nie en het ’n kans kom vat in die hof,” het Boks gesê.

Oor die klagte van seksuele aanranding het Boks gesê dat dit ’n misdryf is wat te algemeen in die hof se bedieningsgebied voorkom.

“Die hof moet ’n vonnis oplê wat keer dat die gemeenskap reg in eie hande neem. Voornemende oortreders moet ook afgeskrik word.” Lategan is gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf, wat voorwaardelik en in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Hy is ook tot drie jaar se korrektiewe toesig gevonnis, wat behels dat hy 24 uur per dag in huisarres is, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.

Hy is ook gelas om ’n vergoedingsbedrag van R6 000 aan die klaer te betaal.

Die hof het op versoek van die verdediging nie ’n bevel ten opsigte van ’n vuurwapen gemaak nie. (Deur Garnett Wicomb)