DIE Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), of altans Community Police Forum (CPF), is volgens die Polisie Wet van 1995, Wet no 68, Hoofstuk 7, Seksies 18 – 23 gestig.
Die Sektor 3-gebied (daar is drie ander sektore in Oudtshoorn) sluit alle inwoners, besighede, maatskappye, kerke, skole, jeugorganisasies, staatsinstellings en informele organisasies in wat woonagtig of gevestig is in die area vanaf die plakkerskamp langs die Golfbaan, Hopeville, en Noord tot Wesbank-Suid asook die totale Oudtshoorn Sentrale Sakekern.
Sektor 3 word bestuur deur ’n komitee wat bestaan uit ’n same-stelling van lede van die gemeenskap en word sterk ondersteun deur die SA Polisiediens.
Sake en aangeleenthede wat die totale gemeenskap daagliks ondervind en beïnvloed word tydens maandelikse vergaderings bespreek en aksies uit besluite word van hier uitgevoer.
Daar is tans vakante poste in Sektor 3 en voornemende lede word verkies op voorstelle en as gevolg van ondersteuning vanuit die ge-meenskap.
Die Sektor 3-bevelvoerder, ao Pieter du Plessis, nooi alle belangstellendes wat erns het met veiligheid, sekuriteit, misdaadbekamping en van voorneme is om met innoverende en positiewe benadering oplossings te bied na ’n openbare vergadering in die Banketsaal van die Oudtshoorn Munisipaliteit op 18 April om 19:00.
Die vergadering is oop vir alle belangstellendes; van oumas en oupas, pensioenarisse, enkelbewoners, enkelouers, alleenlopers, veterane, oudlede van veiligheidsmagte, vakmanne, kundiges, beroepgedrewenes, oorlewingshelde, kerkleiers, aktiviste en alle ander. Alle bewoners van ons dorp word genooi om dit asseblief by te woon.
U hulp om ’n verskil te maak is geweldig belangrik.
Vir navrae kontak ao Du Plessis op 082 821 1027.
Raak betrokke vra Polisie vir besighede en
inwoners
