Die Klein Karoo Voetslaanklub (KKVK), met Oudtshoorn as hoofkwartier, bestaan reeds vir meer as drie dekades. Die klub bied sy lede georganiseerde geleenthede om aan voetslaanaktiwiteite in die natuur deel te neem.
Elke jaar stel die bestuurskomitee aan die begin van die jaar ‘n program op met ‘n verskeidenheid aktiwiteite, van korter en makliker dagstappe tot langer en uitdagender staptogte van vier tot agt dae. Die program bevat ook naweekstappe en kombinasies van dag- en naweekstappe, sodat daar vir elke lid iets van hulle voorkeur is.
Die KKVK se algemene jaarvergadering vind plaas op 23 Januarie om 19:00 by die Wesbank Tennisklub in Kerkstraat (tussen Buitekantstraat en Parkweg). Alle lede en belangstellende nie-lede is welkom om by die vergadering aan te sluit.
Na afloop van die vergadering is daar ’n bring-en-braai. Lede word gevra om hul eie eetgerei, bekers en vleis te bring. Drank kan by die tennisklub gekoop word. Die komitee voorsien die vuur, braairooster en bykosse soos broodjies, aartappelslaai en mengelslaai. RSVP voor 19 Januarie om die voorbereidings te help.
Vir meer inligting kontak Danie Steyl by 078 469 3727 of daniesteyl57@gmail.com.
Meer inligting oor die klub is beskikbaar by www.kleinkaroovoetslaanklub.godaddysites.com.
KKVK nooi alle stapliefhebbers
