Het jy geweet? Die Hoorn vier aan die einde van Januarie ons 25ste bestaansjaar.
Die eerste Die Hoorn koerant het 25 Januarie 2001 op verskeie rakke in die Klein Karoo verskyn. Die koerant is deur Schalk en Liesel le Roux, name sinoniem met betroubare en vars nuus, begin. Hulle is ook die trotse ouers van voormalige Mej. Suid-Afrika, Oudtshoorn se mooiste Mia le Roux.
Die Hoorn is in 2022 oorgekoop deur Jaco en Angelique Erasmus. Angelique het ook voorheen as bemarker en joernalis by die koerant gewerk. In 2024 is die groot besluit geneem om die koerant gratis uit te gee. Die koerantoplaag is ook in 2025 van 2 000 eksemplare per week na 2 500 verhoog.
Wat maak Die Hoorn uniek?
Die Hoorn is nie sommer net nóg ’n koerant nie – ons is die stem van ons gemeenskap. Dít maak ons anders:
- Onafhanklik en plaaslik: Ons behoort nie aan ’n groot mediagroep nie. Dit beteken ons kan vry, eerlik en relevant rapporteer oor dít wat regtig saak maak in die Klein Karoo.
- Gratis vir ons lesers: Gemeenskapsnuus moet toeganklik wees. Daarom bly Die Hoorn gratis – elke inwoner verdien om ingelig te wees.
- Gemeenskapsgefokus: Ons skryf oor mense, skole, sport, besighede en stories uit ons eie dorpe. As dit hier gebeur, hoor jy dit by ons.
- Betroubare joernalistiek: Ons hou by sterk etiese beginsels en gee om vir akkurate, geba-lanseerde beriggewing – nie sensasie nie.
- Buigsaam en vinnig: Omdat ons onafhanklik is, kan ons vinnig aanpas, kreatief dink en unieke idees implementeer wat groot spelers nie kan nie.
- ’n Ware vennoot vir adverteerders: Ons werk saam met plaaslike besighede en skep persoonlike, doelgerigte advertensie-oplossings wat werk.
Die Hoorn is plaaslik, onafhanklik, betroubaar – en deel van die gemeenskap.
Ons nooi lesers om enige staaltjies, interessante feite of foto’s wat betrekking tot Die Hoorn se 25 jaar viering het met ons te deel. Kontak Angelique by 076 606 2554 of stuur ’n e-pos na redaksie@hoorn.co.za.
