KKSP onthaal internasionale gaste

David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, spreek die gaste Dinsdagaand toe tydens die funksie. In die agtergrond is Kaapstad se liggies en Tafelberg te sien. Foto: Jorrie Jordan

KLEIN Karoo Saadproduksie (KKSP) en Agrofors, op Oudtshoorn, het Dinsdag 6 Junie sowat 180 genooide gaste onthaal, in die Media24 gebou, by die NASDAK Rooftop venue in Kaapstad.

Die lokaal bied ’n 360 grade uitsig oor die stad.

Gaste het nie net die liggies van die stad gesien nie, maar ook Tafelberg en Kaapstad se hawe. “Die uitsig was asemrowend mooi om te sien en te beleef, en was beslis ’n ervaring wat baie van ons internasionale gaste vir lank sal onthou,” het Ilse Jordan van KKSP, aan Die Hoorn vertel.

Die tema vir die aand was “Die Klein Karoo ervaring,” en eetgoed het volstruisdisse en selfs vetkoek ingesluit, gemaak deur Johnny Hamman, wenner van Kokkedoor se eerste seisoen wat in Prins Albert verfilm is.

Daar is ook wyn uit die streek saamgeneem, om alles so eg Klein Karoo as moontlik te hou.

Hierdie funksie het deel gevorm van die (ISF) International Seed Federation World kongres met sowat 1200 afgevaardigdes van die saadindustrie, van reg oor die wêreld wat dit bygewoon het. Suid-Afrika sou die kongres in 2020 aanbied, maar moes dit ongelukkig weens die Covid-19 pandemie uitgestel word.