Borgtog weer uitgestel

Bo: Boutros May (29) Foto Facebook Onder: Felicia Afrika (24) Foto Facebook

DIE borgtogaansoek van die vrou wat van moord op die rugbyspeler, Boutros (Boelie) May aangekla word, is gister in die Oudtshoorn landdros vir uitspraak tot Donderdag 15 Junie uitgestel.

Dit volg nadat na die versoek van die staat dat die borgtogaansoek heropen word omdat nuwe inligting glo bekom is. Die inligting is gister deur die hof aanvaar en sal volgens die landdros bestudeer word vir ’n beslissing of dit relevant of nie is in die borgtogaansoek.

Die 24-jarige Felicia Afrika het May glo die oggend van 12 Februarie vanjaar naby ’n kuierplek in St Johnstraat, met ’n skerp voorwerp in die skouer gesteek. Hy is egter ’n paar uur later in die hospitaal dood.

Volgens die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher het sy twee dae na die sluiting van die borgaansoek nuwe inligting bekom.

Dit inligting handel oor Afrika se registrasie by die Robert Sobukwe Akademie wat nie plaasgevind het nie, kommunikasie met staatsgetuies en haar beweerde geneigdheid om misdaad te pleeg.

Afrika se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, is van mening dat die staat die hof probeer mislei.
Volgens hom kon Afrika nie by die inrigting re-gistreer op die gemelde datum nie omdat sy twee dae tevore in hegtenis geneem is. Sy was ook onder die indruk dat haar pa reeds die registrasiegeld betaal het.

Sy ken nie al die staatsgetuienis nie en daar is geen bewys voor die hof dat sy geneig is om misdaad te pleeg nie.

Die landdros het dit aan die twee partye gestel dat ’n borgtogaansoek en nie ’n verhoor is nie maar bygevoeg dat sy nie die nuwe inligting wat die staat bekom het kan ignoreer nie. (Deur Garnett Wicomb)