9de moord binne 5 maande skok gemeenskap

Eugene Delport is die negende slagoffer en is die naweek dood na ’n messteek-insident. Foto’s: Facebook Onder: Verskeie inwo-ners van Oudtshoorn en familielede van slagoffers het op verskeie geleenthede voor die Oudtshoorn landdroshof betoog. Foto: Die Hoorn argief

DIE Groter Oudtshoorn-gemeenskap is in skok gelaat nadat die negende moord binne vyf maande vanjaar die afgelope naweek die lewe van 29-jarige Eugene Delport geëis het.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het vandeesweek bevestig dat Delport omstreeks 18:00 Saterdagaand (3 Junie) vermoor is en dat die polisie gevolglik ’n saak van moord ondersoek.

“Beskikbare inligting dui daarop dat die polisie na ’n messteek-insident in GG Kamp, Bongolethu ontbied is. Die slagoffer is na die polisiestasie toe geneem waar paramedici hom dood verklaar het. ’n 29-jarige is later in verband met die voorval in hegtenis geneem, maar die rede vir die aanval word steeds ondersoek,” het Spies gesê.

Hierdie moord volg kort op die hakke van twee ander moorde op Vrydag (26 Mei) en Sondag (28 Mei).
Die Oudtshoorn Polisie ondersoek die twee moorde wat tussen Vrydag en Sondag plaasgevind het, onderskeidelik in Rosebank en Sesde Laan.

Volgens Spies het die eerste moord Vrydag omstreeks 23:15 die aand plaasgevind in Oklahomastraat, Rosebank. Hy het gesê dat, met die aankoms van polisiebeamptes op die toneel, Isak Manie (49) gevind is met veelvuldige beserings.

Drie jeugdiges, tussen 14 en 19 jaar oud, is volgens Spies in hegtenis geneem.

In die tweede geval daardie naweek is ’n 28-jarige man in hegtenis geneem in verband met die moord van ’n 32-jarige man in Sesde Laan, Bongolethu.

Volgens Spies is die slagoffer by ’n sake-perseel in die straat omstreeks 21:30 die Sondag gevind. “Die beskikbare inligting dui daarop dat die slagoffer aan diens was by die perseel toe hy ’n steekwond aan die nek opgedoen het. Hy is later op die toneel dood verklaar,” het Spies gesê.

Ander moorde
Ander moorde wat sedert die begin van die jaar in die Oudtshoorn-omgewing plaasgevind het, het’n opskudding op die dorp veroorsaak met vele optogte wat voor die Oudtshoorn Landroshof gehou is, en petisies wat deur duisende inwoners onderteken is wat aan amptenare oorhandig is.

Jacques Liebenberg (24) is op 12 Januarie vermoedelik deur sy stiefbroer vermoor. Verdere vermoede bestaan dat sy stiefbroer, Herman Redelinghuys, bygestaan is deur twee ander mans, naamlik Abraham Swartbooi en Adriaan Isaacs.

Boutros “Boelie” May (29), ’n geliefde rugbyspeler op die dorp, is kort daarna op 12 Feruarie in Adderleystraat vermoor. Felicia Stuurman is vir sy moord in hegtenis geneem.

Op 5 Maart is Angelo Jansen doodgesteek met een persoon wat vir sy moord in hegtenis geneem is. ’n Week later, op 12 Maart is Sereef Platjies (18) in die Askamp vermoor.

Byna ’n week daarna is die 60-jarige Abraham Heradien (60) op 21 Maart vermoor. Heradien is dood verklaar op die toneel van ’n padblokkade op die Dysselsdorp/De Rust-pad weens ’n steekwond onder sy linkerarm. Francisco Erasmus staan tereg op sy moord.

Almay Hurling is op 3 April in haar huis in Bridgton gevind nadat sy verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek is.

Volgens die polisie is daar in elke voorval iemand in hegtenis geneem. (Deur Stefan Skapie Goosen)