Koskenner se dood laat groot leemte in dié bedryf

Die formidabele Francois Ferreira saam met die koskenner Ann Hadley. Hulle het in 2012 die gewilde smulpaaptoekennings (gourmand awards) vir eetplekke in die Klein Karoo geloods, met Die Hoorn as die amptelike mediavennoot. Foto: Die Hoorn Argiewe

DAAR was verlede week groot hartseer in die Klein Karoo en Tuinroete na die dood van die streek se bekende glanskok, koskenner en leermeester van jong chefs, Francois Ferreira (62).

Ferreira het op Woensdag 31 Mei 2023 kort na 13:00 sy stryd teen kanker verloor.

“Ek sal Francois Ferreira altyd onthou as een van die beste leermeesters. Hy het die gawe gehad om sy ongelooflike koskennis aan jongmense van alle kulture oor te dra. Hy was flambojant en kontroversieel – maar bowenal ’n goeie vriend. Hy laat ’n reuse leemte in die kos- en opleidingsbedryf.”

So het Niel Els, ’n bekende oud-Oudtshoorniet en deesdae ’n inwoner van Kaapstad, die formidabele Francois Ferreira bestempel wat verlede Woensdag op George oorlede is.

Els was 11 jaar lank betrokke by verskeie toerisme-instellings en by die Turnberry Boutique Hotel op Oudtshoorn voordat hy verlede jaar na Houtbaai verhuis het waar hy in beheer is van die Vida Nova Retreat.

Die Hoorn het self oor twee dekades noue bande met Ferreira gehad. Dit was Die Hoorn wat dié koskenner in die vroeë 2000’s met ’n foto op Die Hoorn se voorblad aan die gemeenskap bekend gestel het toe hy aangestel is as hoof van die Suid-Kaap Kollege se kursus vir hotel- en restaurant-dienste.

Toe Ferreira in 2012 saam met koskenner Ann Hadley besluit het om die gewilde smulpaaptoekennings (gourmand awards) vir eetplekke in die Klein Karoo te loods, het hy Die Hoorn genader om as mediavennoot op te tree; ’n taak wat groot vreugde vir almal betrokke gebring het. Die toekennings is in 2018 die laaste keer toegeken, maar tydelik op ys geplaas deur die Covid-uitbreking, ’n terugslag in Ferreira se gesondheid en ook later sy besige program by die Eden School of Culinary Art wat hy in 2004 op George gestig het asook die Francois Ferreira Akademie wat in 2022 geloods is.

Ferreira was egter nie net ’n koskunstenaar nie, maar ook ’n bekroonde en bekende Suid-Afrikaanse sjef. Hy het vier kookboeke geskryf en was gereeld te sien op televisie en radio.

Ferreira se loopbaan het in 1979 in die lugmag begin. Hy het in 1982 as dosent klas gegee by die lugmag se kookskool in Valhalla, en vir verskeie jare die “SA Air Force Chef of the Year” titel gewen.

Daarna het hy in die huishoudings van verskeie ministers en selfs president FW de Klerk gewerk as huishoudelike bestuurder, tot en met 1994.

Hy het ook vir verskeie jare as hoofsjef by bekende restaurante in Pretoria gewerk, en later in Kaapstad en selfs in Namibië. Hy het egter ’n groot passie gehad om ander te leer en op te lei.

“Dit was sy passie om al sy jarelange kennis van kos met ander te deel” lui ’n mediaverklaring, uitgereik deur die Francois Ferreira Akademie.

Sy lewe is Saterdag 3 Junie op George gevier tydens ’n byeenkoms in ’n stampvol saal, met honderde mense wat ook die uitsending van elders gevolg het.