KKNK-Teksmark – ster van die week

Tonele uit die Oudtshoorn Teksmark. Foto’s: Hans van der Veen

DIE KKNK was die ster van die week met Teksmark waaraan Oudtshoorniete en inwoners van die omgewing die eerste keer plaaslik kon deelneem en wat Saterdag ook die eerste keer op Oudtshoorn plaasgevind het.

Dit was ’n geleentheid waar die idees en skryfwerk van plaaslike mense tot verwondering, opwinding en ook trane van emosie gelei het. Welgedaan aan almal wat hierby betrokke was.

Teksmark vind jaarliks in die Baxter-teater in Kaapstad plaas, maar vanjaar het die projek Oudtshoorn toe gekom, met inwoners van die omgewing wat dit gratis kon bywoon.

Die doel van Teksmark is eenvoudig: Dis ’n soektog na nuwe talent wat by toekomstige feeste hul werk op die planke kan sien lewe kry op KKNK-verhoë.

Die gehoor kon Saterdag sewe uittreksels van splinternuwe tekste deur Jopie Coetzee, Leach van der Westhuizen, Ludwig Siwa, Hannes Visser, Theo Witbooi, Tiffany Saterdaght en Veruschka Cobus sien wat as leesteater aangebied is. Dié sewe is gekies ná ’n skryfwerkwinkel wat in April aangebied is.

Ook op die verhoog was ’n uittreksel van Ricardo Arendse, draaiboekskrywer en boorling van die dorp, se Die halwe huis, ’n produksie wat in die toekoms by die KKNK opgevoer sal word. Ricardo se teks is voorgelees deur die plaaslike ster Marlo Minnaar van Suidooster, Sara se geheim en 7de Laan.

Minnaar het die impak van dié geleentheid in ’n inskrywing op Facebook in ses woorde raakgevat: “KKNK Teksmark het huis toe gekom!”

Hy skryf voorts: “Gisteraand het ek die eer en voorreg gehad om op te tree by die heel eerste KKNK Teksmark: Oudtshoorn, my tuisdorp. Dit was vir my so ’n surrealistiese en volle sirkel-oomblik toe ek meer as 17 jaar later op dieselfde verhoog gestaan ​​het waar ek vir die eerste keer opgetree het. Dit het so goed gevoel.

“Aan die dapper jong mense wat hulle waarheid na die verhoog gebring het – ek salueer julle!

“Aan Hugo Theart en die KKNK, dankie vir hierdie geleentheid – julle verander die trajek van die uitvoerende kunste in ons gemeenskap. Ek kan nie anders nie as om te dink mnr David Piedt glimlag vandag as hy neerkyk op sy geliefde dorp. Welgedaan.”

Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees, het so gereageer: “Dis dae soos die wat mens herinner aan die krag van die kunste. Hoe die kunste gesprek kan oopmaak en ’n verskil maak.

“Elke dorp en streek het sy stories wat vertel moet word, en die aspirantskrywers van die Klein Karoo en Tuinroete het uitgehaal en gewys. Dit was roerend, eerlik, uitdagend en opwindend!” (Deur Liesel le Roux)