Die KKNK se virtuele kunsgalery vir 2021 het Dinsdag (29 Junie) die tweede jaar sy “deure” aanlyn geopen op die webblad www.kknk.co.za. Hierdie “kunsgalery’ is nog een van die KKNK se kreatiewe projekte waarmee dié fees sedert verlede jaar liefhebbers van die kunste die geleentheid bied om deur die jaar en op ’n ander manier steeds die kunste te geniet.
Die virtuele galery is tereg ook verlede jaar by die kykNET Fiëstas genomineer as een van die beste aanlyn- projekte, terwyl Dineke van der Walt, kurator, met die Fiësta vir die beste prestasie in visuele kuns bekroon is.
Die tema van vanjaar se virtuele kunsgalery, is Voel.
Kunstenaars en kurators moes werke kies wat die fyn nuanses van uiteenlopende emosies ondersoek.
“Ons almal het spesifieke goeie en slegte ervarings wat ons ten diepste raak en ons lewens beïnvloed,” sê Van der Walt.
“Deur kuns kan ons daaraan uitdrukking gee. Dis ’n manier waarop ons die vinger kan lê op spesifieke belewenisse wat ons nie andersins sou kon verwoord nie.
“Kuns is in sommige gevalle ’n uitlaatklep; dis ’n katarsis wat lei tot suiwering en helderheid. Maar ’n kuns- werk kan ook ’n raamwerk wees waarbinne ons diepste vrese, pyn en vreugde vasgevang kan word. Vanjaar se uitstalling wil een en almal help verstaan hoe betekenisvol emosies kan wees, hoe dit ons lewens raak – want soms is dit abstrak, en is woorde net nie genoeg nie.”
Ses groepuitstallings is te sien met 83 kunstenaars wat betrokke is. 245 kunswerke word uitgestal.
Verskeie kunstenaars uit die Klein Karoo en Tuinroete se werke sal te sien wees, onder meer Chris Slabber, Roger Langdon,
Hannalie Taute, Jan Willem Wiener, Janet Dixon, Lisl Barry, Ria Holliday en Stephen Rosin.
Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, is die virtuele kunsgalery oop vir verkope tot 29 Augustus en is pryse billik. “Ons is trots daarop om vir die tweede jaar ’n geleentheid vir kunsliefhebbers te skep om van regoor die wêreld en in die gemak van hul eie huis die fees se visuele kunsuitstalling te beleef,” sê hy. (Deur Liesel le Roux)
KKNK se tweede virtuele kunsgalery sedert Dinsdag oop!
Onder die 245 kunswerke van 83 kunstenaars wat sedert Dinsdag op die KKNK se webblad (www.kknk.co.za) te sien en te koop is, is die drie van Stephen Rosin (Something Pauses , bo links), Evert Esterhuizen (Feeling Rhings, bo regs) en Cobus van Bosch (Ongetitel, regs onder).
Foto’s van kunswerke verskaf