Kinders wat op die N12 by Rose Valley voor motors en trokke in die pad lê, opspring en mik-mik asof hulle die voertuie met klippe wil gooi, is ’n gevaarlike speletjie en ’n groot kopseer vir motoriste.
Danie Maart, wykskomiteelid van wyk 12, vertel dat hy verlede week met sy fiets Rose Valley toe was. Terwyl hy by die ingang na Rose Valley vanuit die N12 gestaan het, het hy die kinders se gevaarlike speletjie gesien. “Wat ek daar gesien het, het my hare laat rys”, het Maart aan Die Hoorn gesê.
Volgens hom was daar ’n groep van 8 tot 10 kinders tussen die ouderdom van 10 en 13. Hulle het in die pad rondgehardloop en voor die aankomende verkeer in die pad gaan lê. As die voertuie amper by hulle was, het hul opgespring en gemaak of hulle klippe na die motors gooi.
“Van die motors het uitgeswaai omdat hulle skrik vir die kinders wat opspring, of as dit lyk of daar ’n klip gegooi word. Dit ’n gevaarlike situasie wat ’n ongeluk kan veroorsaak, of dalk ’n kind doodgery kan word”. Maart sê hy het na die kinders gestap het om hulle aan te spreek, maar hulle het weggehardloop na hul huise langs die pad.
Van hulle ouers het voor die huise gesit en gesien wat die kinders aanvang. “Ek het vir hulle gevra waarom hulle nie met die kinders raas nie, en hul antwoord was dat die kinders in elk geval nie na hulle luister nie”.
Die Hoorn het ’n navraag aan die munisipaliteit gestuur en gevra wie verant- woordelik is om hierdie gebeure aan te spreek. Die feit dat ’n vragmotorbestuurder ’n aantal maande gelede dood is in ’n botsing nadat hy deur ’n klip getref is, laat gevaarligte flikker.
Die vragmotor het deur twee huise langs die pad geploeg en beeldmateriaal op die vragmotor se kamera het aangetoon dat ’n voetganger langs die pad die trok met ’n klip gegooi het, wat die bestuurder getref het. Geen reaksie is teen druktyd ontvang nie.