KKEB (Klein Karoo Edms Bpk) en sy filiale Klein Karoo Saad (KKS) en Klein Karoo Agri (KKA) het op Vrydag 22 November hul algemene jaarvergadering gehou.
Pieter Barnard, Bestuurder van KKEB, het tydens sy voorlegging meegedeel dat die gekonsolideerde groepomset vir die 2024 finansiële jaar met 11,3% tot R1,98 miljard gegroei het en dat netto wins na belasting toeskryfbaar aan aandeelhouers, R64 miljoen beloop het. Verder, het die groep se totale bates gedurende die afgelope jaar van R1,45 miljard na R1,79 miljard toegeneem.
Barnard het voorts gesê dat KKEB verbind is daartoe om ’n positiewe balans tussen produsentewelvaart en ʼn gesonde groep van maatskappye te verseker.
Johannes Delport, voorsitter van KKEB, het sy dank uitgespreek teenoor die personeel van al die filiale. “Hierdie resultate kom nie vanself nie en sonder die harde werk en toewyding van personeel sal dit nie moontlik wees nie,” het hy gesê.
Hy het ook aan die Hemelse Vader alle eer vir die seën en sukses van die afgelope tyd gegee.
Volgens die jaarverslag bly Klein Karoo Saad Produksie (KKSP) die grootste bydraer tot die wesensinkomste van KKS. Hul ander maatskappy, Agrofors wat kunsmis, chemikalieë en weidingsaad aan hoofsaaklik saadprodusente teen bekostigbare pryse verskaf, dra ook by tot die sukses van die maatskappy.
“Daar word verwag dat die bedryf op die vooraand staan van ’n tegnologiese golf, waarvan KKS deel moet wees. Goeie personeel sal egter altyd die sentrale as, wat die nuwe tegnologieë tot voordeel van die bedryf omarm, wees,” het David Malan, besturende direkteur van KKS, gesê.
Vir Klein Karoo Agri was dit ’n besonder besige jaar met die oprigting en opening van die “Jou Eie” winkelsentrum binne 12 maande, asook die uitbreiding van hul handelstak in Oudtshoorn.
Daar is ook ’n nuwe Suzuki Oudtshoorn en ’n pragtige vertoonlokaal vir Case trekkers en implemente by hul portefeulje gevoeg.
“Vir KKA bly die landbouprodusent die belangrikste en sal die projekte wat Klein Karoo Agri aanpak tot voordeel van die produsent wees,” het Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri, gesê. Hy benadruk dat hulle baie dankbaar en nederig is oor die afgelope jaar se prestasies en groei, en bedank elke kliënt vir hul lojale ondersteuning.
KKEB het in die afgelope finansiële jaar ondersoek ingestel na die rol wat KKEB kan speel om bykomende waarde vir produsente te skep.
As deel van die uitkoms van hierdie inisiatief is ’n nuwe filiaal, Klein Karoo Finansiële Dienste (KKFD) geskep. Die doel van KKFD is om aan produsente hoë gehalte finansiële tussenganger en raadgewende dienste te bied. Daar word aanvanklik op oesversekering gefokus.
Na afloop van elke filiaal se jaarverslae het Ryk van Niekerk, redakteur van Moneyweb, met meer as 20 jaar joernalistieke ondervinding, die gaste toegespreek. (ANGELIQUE ERASMUS)