Kian dalk Oudtshoorn se eie Bok van Blerk!

DIE 15-jarige Kian Snyman van Oudtshoorn is stadig maar seker besig om sy droom om op die verhoog te sing, te laat realiseer.

Kian het onlangs ’n suksevolle oudisie vir ABS Produksies se Sing Aanlyn-projek afgelê.

Kian, wat vanjaar in graad 9 aan Langenhoven Gimnasium was, vertel dat hy bloot net ’n kans gewaag het toe oudisies vir Sing Aanlyn geopen het, en dat hy met verbasing daarna moes hoor dat hy dié oudisie geslaag het.

Die projek bied ’n geleentheid vir sangers van alle ouderdomme om meer te leer oor die musiekbedryf en sang as kunsvorm by bekendes soos Reynardt Hugo, Charlize Bergh, Monique Steyn, Lee Scott en Germandt Geldenhuys.

Dié mentors gaan vir Kian en ander sangers wat suksesvolle oudisies afgelê het, die volgende jaar onder die vlerk neem, afrig in verskeie aspekte van die vermaaklikheidsbedryf en ook voorberei vir ’n teaterstuk wat in 2021 op kykNET uitgesaai sal word.

Kian sê tussen stres vanjaar oor Covid en skool is Sing Aanlyn ’n welkome afleiding vir hom.

Dié jong sanger, wat Bok van Blerk in die plaaslike musiekbedryf en Shawn Mendes op internasionale vlak bewonder, vertel dat hy die goeie tyding oor sy insluiting in die projek gekry het net nadat hy op ’n dag eksamen geskryf het.

“Ek het nooit gedink ek sou dit maak nie. Ek moes ’n video van myself instuur – ek het Brendan Peyper se Twee is Beter as Een gesing,” sê hy.

Hy ontvang reeds aanlyn-klasse, wat tydens die vakansie voortgesit sal word. Volgende jaar sal bestaan uit aanlyn-afrigting met skoolvakansies in die Kaap of Pretoria vir afrigting, en voorbereiding van die teaterstuk.

“Ek het myself nooit in die teaterbedryf gesien nie, maar ek is darem nie bang nie, want ek het al voor mense opgetree.”

Kian se liefde vir musiek slaan al die regte noot sedert kleintyd, en hy speel klavier vandat hy nege jaar oud is.

In 2018 het hy deurgedring na die plaaslike Idols-finaal by Brian’s Grill, en het die plaaslike musikant Paul Amas hom raakgesien, sê hy.

Hierna het hy ’n paar keer saam met Amas opgetree.

In 2019 het hy begin kitaarlesse neem by nog ’n plaaslike musikant, Marisca Visagie.

Maar hoekom musiek?
“As ek sleg voel, wend ek my altyd na musiek en laat dit my beter voel.”
Vir Kian is musiek in hierdie stadium beslis sy plan vir die toekoms, maar hy vertel ook dat hy graag as ’n adviseur in die boerdery-bedryf sal wil werk. (Deur Stefan Skapie Goosen)